Boelies – ʼn Eensame Wêreld
Die weerloosheid van kinders, hul onvermoë om emosionele druk te hanteer , verwerp te word en daarmee te moet deel, is verseker een van die moeilikste situasies van ouerskap om te aanskou.
Wanneer ʼn jong seuntjie begin voel dat hy geen toevlug het nie, dat die wêreld hom insluk as gevolg van een of twee kinders wat sosiaal wanaangepas is en hom nie sy eie plekkie in die son gun nie.
Stadig maar seker begin hy insak in die dryfsand van emosionele selfvernietiging.
Niks kan met tye so wreed en gevoelloos wees soos kinders nie, hulle sê en doen dikwels goed sonder die inagneming van die impak en moontlik vernietigende gevolge van hul woorde en dade.
Die vraag of almal dit doelbewus doen, of dit deel is van hul opvoeding, geneties ensovoorts is natuurlik debatteerbaar.
Kinders het die vermoë om die, wie hulle nie as deel van die groep wil hê nie, heeltemal te vervreem en emosioneel koud te laat.
Nat gesweet met ʼn verhoogde hartklop en ʼn droë mond, stap daar daagliks kinders angsbevange die skool hekke binne.
Met voorgee maskers van “geluk” pak hulle elke dag aan in die hoop dat dinge sal verander, met ʼn geheime “realiteit” van vrees en angs, probeer hulle om hulself binne die warboel van emosies te balanseer.
Uur vir uur en dag vir dag, leef hulle deur die angs en hartseer.
Skaam en vreesbevange om hul gevoelens en situasie van verwerping te deel, word hul wêreld elke dag al hoe kleiner.
Met ʼn soeke na aanvaarding en om deel te wees van ʼn groep gaan hulle soms oor tot uiterstes en tree hulle heeltemal buite karakter op.
Dit is egter die jong seuntjie wat weier om onder boelie druk te struikel en buite karakter op te tree wat daagliks met die fisiese en verbale geweld van een of ander “boelie” te doen kry.
Met die onvermoë om die druk, en boelie taktiek te hanteer het hy geen keuse as om dit te absorbeer nie.
Soms sonder waarskuwing of wete word al net te veel.
Die kinderlike slagoffertjie bereik sy versadigings punt in terme van sy emosionele en fisiese toleransie van hartseer en afknou.
N desperate soeke na uitkoms skep die grooste vorm van alleenheid en magteloosheid in ʼn kinderhart wat net in eenvoud vrede en aanvaarding soek.
Verseker se die slim mense is daar tekens wat ons as ouers behoort te sien en na op te moet let, maar dit gebeur ook dat kinders die vermoë het om hul emosies goed te verskans teen die res van die wêreld.
Om te lees van ʼn jong 12 jarige seuntjie wat sy eie lewe geneem het, boeties, sussies en ouers wat moet afskeid neem en vir ewig die vreugde van hul kind ontneem is,is net onverstaanbaar en onverklaarbaar wreed.
Antwoorde vir die ouers is min en net genade en tyd kan dit moontlik beter maak.
Waar laat dit ons wat agterbly, dit is verseker moeilik, miskien is die begin om net meer en fyner op te let, meer ingestel te wees, meer tyd te maak, en so kan die lysie aangaan.
Heel moontlik sal dit ook van waarde wees as ons, ons kinders leer om in die algemeen op te staan teen boelies, al is hy of sy self nie die slagoffer nie.