Title Image

Blog

FOUTE – DOM OF SLIM?

Daar word dikwels gesê, ons almal maak foute, en ons doen, feite.

Saam dit het ons almal foute in ons mondering, dit is menslik en deel van ons feilbare menslike oordeelsvermoë.

Hoeveel maal sal jy die woorde hoor, “hopelik leer hy hierdie keer uit sy foute”.

Dit het altyd vir my soos ʼn wens gevoel as iemand dit sê, so amper asof hulle dit uitspreek en wil hê dit moet deel vorm van die straf vir jou foute.

 

Dit is seer sekerlik waar, wel ek dink in meeste gevalle, maar dit is vir niemand lekker om te moet leer uit hul foute nie, maar tog belangrik en soms die enigste uitweg.

 

In baie gevalle is die regmaak van ons foute nie so eenvoudig soos die fout self nie.

ʼn Klein ‘foutjie” kan groot en ernstige gevolge hê.

ʼn Verkeerde woord buite konteks kan die wêreld skud en het al menige ʼn verhouding vir ewig gekelder.

 

Ek dink een van die grootste worstelinge as dit by die erkenning van ons foute kom, is maar ʼn ou se trots, skuldgevoelens of gewete, veral as iemand jou moontlik gewaarsku het teen jou potensiële fout.

 

In meeste gevalle is ons altyd kwaad vir iemand anders oor ons foute.

Saam die nadenke besef ons later dat dit heel moontlik ons eie skuld is en dan volg daai lekker skaam kwaad.

 

Dan is daar ook mos daai stemmetjie wat binne ons diepste deel van ons menswees wegkruip, wat jou waarsku as iets nie lekker is nie.

 

Die “twyfel-wekker stemmetjie”, wat baie duidelik tot mens spreek as jy moontlik verkeerd optree of ʼn verkeerde besluit wil neem.

 

Vinnig onwikkel ons ʼn innerlike doofheid vir daai fyn sagte stemmetjie, en  ignoreer ons hom en as ons wel uitvind dat ons doofheid ons van die wal in die sloot gehelp het, volg spyt.

 

Die ou mense het altyd gesê, spyt is ʼn goeie ding, maar dit kom te laat.

Maar wat bepaal die ewewig van ons foute.

Wat veroorsaak dat ons besluite altyd na of diė of daai kant, links of regs van die pendulum swaai?

 

Of dit nou oor verhoudings, geldsake, vakansies, die koop van ʼn nuwe kar, huis of wat ook al gaan, daar is altyd ʼn klein persentasie twyfel wat ons tog laat worstel oor ons finale besluit.

 

Soms as ek net sit en luister na mense sê gesprekke, veral langs ʼn braai vleis vuur, en Bacchus se greep het ingetree, en die verbode vrugte van uitbundigheid het tot sy reg gekom.

Dan is dit mos altyd die beste tyd vir ʼn man om die wêreld te vertel van al sy foute wat hy al gemaak het, en hoekom hy dan nou vandag is waar hy is en waarom hy homself nie aanspreeklik hou vir sy foute nie.

 

Die Engelse sê mos, “a drunk man’s words are a sober man’s thoughts”

Ten einde laaste sal die gesprek afsluit met, “shit mens kan soms dom foute maak.”

 

Ek probeer nog uitvind of daar nou werklik dan ʼn slim fout bestaan?

Kry mens dan nou dom of slim foute of is foute net foute?

 

Die slim motiverings sprekers is dit eens dat ons moet besef dat ons gaan foute maak, ons is mense.

Ons moet daaruit leer, verantwoordelikheid daarvoor neem en dit regstel, vergeet en aanbeweeg.

 

Wat ek wel deesdae sien is dat mense rondom my hulself vir hoe lank kasty en straf vir hul foute, die fokus op selfverwyt raak so erg dat aanbeweeg nie meer ʼn as opsie gesien word nie.

 

Miskien is ons net eenvoudig in soveel gevalle te hard op ons self, ons kleef vas aan die verskoning en regverdiging vir ons foute en binne ʼn oogwink raak ons ʼn slagoffer, daarna volg verwyt en siedaar, jy is ʼn gevange van die resultaat van jou foute.

 

Die beste advies wat ek ontvang het, was van ʼn bekende predikant in die Paarl, hy het vir my gesê dat al ons besluite het gevolge, genadiglik in meeste gevalle tot ons voordeel maar soms is dit tot ons nadeel.

Met ander woorde goeie en slegte gevolge.

Hy sê toe dat om vas te klou aan ons foute dieselde is as om ʼn nuwe mat oor  ʼn ou olie kol te wil sit, met tyd gaan die ou olie maar net weer deurslaan, die mat bederf en moet jy die mat vervang.

 

Hy het verder gesê dat ons gereeld die gevolge van ons besluite verwar met allerhande goed soos straf, dat iemand of iets ons te na wil kom of sommer die werk van die duiwel.

 

Soms begin ons aan vervolgingswaansin lei, ons sien, hoor en glo goed wat nie bestaan nie.

Ons skep vir onself vooropgestelde idees van wat ander mense van ons dink en sê of moontlik gesê het sonder dat dit eers bestaan.

 

Die oplossing, ek weet nie;  maar my gevoel is ek gaan die predikant sê advies volg en harder daaraan werk om myself te vergewe vir my foute, my olie kol permanent verwyder, my nuwe mat neerlê en aanbeweeg.

 

Miskien sal dit my help om vinniger en makliker my medemens ook te leer vergewe vir hul foute…

Ons almal verdien mos ʼn tweede kans.

POST A COMMENT