Goeie Maniere of Gewoonte Woorde
Dankie, ʼn kort woord met ʼn waardevolle betekenis, of geen betekenis.
Bepalend deur die spreker se menswees, ʼn spieël van sy innerlike vlak van selfvergenoegdheid of opregte waardering.
Deesdae is dankie sê nie meer ʼn hartsding nie, dit het iets geword wat daar tussen die persoon sê derms en stembande aangaan en dan sommer net verwoord word.
Ons mense is so gewoonte georiënteerd as dit kom by sekere goed wat ons doen en sê, dink maar aan al die volgende woorde soos:
Jammer man, dankie ou maaitjie, ek bedoel dit opreg jong, ek belowe jou my ou vriendin ,vergewe my ou maat, ons bid vir julle” ens.
Die slegste deel is natuurlik die “ man, ou maatjie, jong, ou vriendin” ens wat volg op die gewoonte woorde, amper soos ʼn ekstra suikertjie wat in die koffie gegooi word, vir so bietjie ekstra liefde, so bietjie van ʼn “sweetner”
Dit voel werklik of mense se opregtheid en maniere saam met ons laaste Covid-vrye Kersdag in 2019 vir ewig weg is.
Gaan kuier jy by mense of loop hul raak in ʼn Mall of winkel, dan moet die ouers vir die kinders aansê om te groet, dit gebeur nie meer vanself nie.
Ouers is deesdae meer verbaas as trots as ander ouers waar hul kind kuier of oorslaap, vir hulle sê, “Jou kind het sulke goeie maniere, hy sê elke keer dankie en asseblief, hy het selfs aangebied om te help met die skottelgoed, ek wens my kinders kan dit ook doen”
Waarskynlik antwoord die ander ouer, “dankie, ek wens tog net so hy kan by die huis ook so wees”.
Daar drop die pennie, die voorbeeld ding.
Hulle sê mos, kinders doen nie wat ons as ouers sê nie, hulle doen en tree op soos wat ons as ouers doen en optree.
Daar is selfs ʼn boek, “Gehoorsame ouers & streng kinders” wat die lig gesien het.
Die slegte ding is dat die impak van gewoonte woorde die teenoorgestelde uitwerking het, veral as die ontvanger van die woorde besef dat dit sonder opregtheid gesê word, en dus totaal waardeloos is, dit kan selfs vernederend voel.
Dit laat my met die gedagte en wete dat dankbaarheid en goeie maniere verstaan moet word vir wat dit werklik veronderstel is om te moet wees, voordat jy dit spontaan sal uitleef as ʼn hartsding.
Moontlik lê die oplossing daarin om net weer te besef dat ons ten spyte van dit als mekaar met so klein bietjie meer respek, opregtheid en waardering moet hanteer.
Laat jou dankie meer as ʼn dankie wees, jou nee ʼn opregte nee en jou goeie maniere nie deur tannie Emsie Schoeman sê handeling bepaal word nie, maar deur jou hart, ʼn goeie voorbeeld en ʼn opregte opvoeding.