KOMPLIMENTE EN AFJAKKE
Twee emosie woorde wat wêrelde van mekaar verskil maar tog so naby is in die uitspreek, gebruik en die impak daarvan op ons menswees.
Ek gesels met ʼn vriendin van my en die onderwerp kom op – Komplimente
Sy deel met my dat dit haar ervaring is dat mense almal komplimente verskillend ervaar en interpreteer.
Vir een persoon is die ontvang van ʼn kompliment ʼn groot ego “booster” en net die hupstoot wat hy nodig het om dan sommer vanself verder sy ego self te komplimenteer, gewoonlik ongevraagd.
Jy weet mos, die tipe ou wat in ʼn geselskap jou vra hoe dit gaan, jy kry een praat sin, moontlik vyf woorde en die res van die gesprek neem hy eienaarskap van alles wat verder gesê word.
Jy is dan in ʼn situasie waar jy met verveeldheid moet luister hoe hy of sy oor hom of haarself praat “non-stop”.
Dan is daar die persoon wat skugter is vir komplimente en sal terugdeins vir komplimente, een of twee redes sê sy…. heel moontlik.
Een, die persoon is van nature net eenvoudig skaam of voel heel moontlik hy of sy is nie goed genoeg om die kompliment te aanvaar of te verdien nie, die ding van, verdien ek werklik die kompliment, is ek dit waardig?
En twee, die ander “Flip of the coin”, die kompliment gewer, bedoel hy of sy dit opreg of is dit nou maar net heuning om die mond?
Gewoonlik daai ou, as hy jou na ʼn lang afwesigheid weer sien, vir jou sal sê, “ jy lyk goed”, of “sjoe maar jy het maer geword”.
Ten spyte van die feit dat jy weet jy niks beter lyk of voel soos toe jy en die persoon mekaar die laaste keer gesien het nie, en die feit dat jou badkamer skaal se verhaal ʼn ander harde waarheid met jou deel.
Hoe dit ook al sy, dit is waar komplimente en ʼn lekker katterige afjak voel soos ʼn dolk in jou sy.
Dit is net verbasend hoeveel mense ʼn afjak verwar met eerlikheid of reguit wees.
Raak jy in ʼn woorde wisseling betrokke en bevraagteken ʼn afjak, dan sal die ou net sê, “jammer maar ek is maar ʼn reguit persoon”.
Daar is ʼn groot verskil tussen net eenvoudig reguit wees en nie maniere hê nie of dan nou net bloot ongeskik wees.
Daar is vir my ʼn eerlikheid aan reguit wees, wat jy tog besef as iemand met jou reguit is, maar daai selfde eerlikheid ontbreek as iemand net eenvoudig ongeskik is.
Soms put sulke mense geweldige genot daaruit om oppervlakkige “steke” in te kry deur sarkastiese aanmerkings met ʼn onvermoë om die verlede se verskille te laat waar dit hoort, in die verlede.
Dit voel soms vir my asof sulke mense hul slegte dag of ervarings op ander projekteer met die doel om beter oor hulself te voel of dan ten minste te kan sê dat hul nou ʼn gelykmaker gevind het.
My opinie, jy is of ʼn goeie kompliment gewer of ʼn eerlik reguit mens, moontlik het jy die balans gevind en beide bemeester, ag jouself gelukkig want jy is heel moontlik een uit ʼn miljoen..
In die wêreld waar ons tans leef moet ons meer sensitief wees vir watter kant van die balans van die twee ons, ons bevind, dink na oor jou woord keuses, goed of sleg.
Daar is ʼn Engelse aanhaling wat sê “Words influence others and build relationships, language holds massive colossal power to manifest change whether it’s good or bad, be cautious not to become a slave of your own bad words, it reveals your true character”
Neem in ag dat daar krag in jou woorde is en dat dit vir ewig nie net daar buite in die klank golwe van die heelal sal ronddryf nie, maar dat dit ʼn diep en blywende impak om mense om jou kan maak.
ʼn Indruk wat opbouend of afbrekend kan wees, los die fooitjie van die karwag en plaas dalk eerder ʼn wag voor jou mond.