Vrees vir die onbekende
Wat is dit wat ons vrese aanwakker en dryf?
Dit wat ons nie weet of ken nie, waarvoor ons wag sonder die wete van wat die impak van die onbekende gaan wees, of moontlik ons vooropgestelde idee van wat ons dink gaan gebeur.
Die feit dat elke volgende sekonde onbekend aan ons is, en dat tyd nie stilstaan nie en met elke sekonde die nuwe onbekende na ons toe bring is ʼn gegewe.
Die vreemde, die wonder, hoekom, waarom en wat?.
Die soeke na antwoorde wat in ons koppe rondmaal en ons uit die slaap hou.
Soms gevul met ʼn gevoel van vrees en soms opgewondenheid, die inherente vrees vir die goeie en die slegte.
As dit goed gaan, wonder ons hoekom en sê gereeld vir ons self , “dit is te goed om waar te wees”
As dit sleg en moeilik gaan, wonder ons onmiddellik wat ons verkeerd gedoen het om dit te verdien, al het ons soms niks verkeerd gedoen nie.
Ons gaan slaap moeg en staan moeg op, ons drink medikasie om ons beter te laat voel en te laat slaap.
Ons ewewig en balans is buite die normaal en ons lewe net in die oomblik, die nou.
Die nou is al wat aan ons bekend is, meer as dit laat ons buite beheer voel en maak ons bang.
Die Engelse sê ,”Humans are creatures of habbit”, Ons leef in gewoonte en vind ritme in ons doen en late.
Dit laat ons in beheer voel en gee ʼn vooropgestelde idee van dit wat ons laat goed voel en wat ons dink belangrik is.
Die vrees om droom verlore te leef, en nie te weet of dit waarna jy elke dag streef en voor leef ooit sal realiseer binne jou tydelike bestaan nie.
Vrees om skuldig te voel omdat jy nee se as iemand jou vra om hulp, ʼn nee wat ʼn opregte nee is, maar in jou vooropgestelde idees van wat ander dink, beskou jy dit as net ʼn verskoning en voel jy skuldig.
Die vrees dat jy eendag sal terugkyk op lewe en nie soos God met elke skeppingsdag sal kan sê, dit was goed.