
80 IN DIE HEMEL
Binne die realm van nostalgie
Haak my kop vas in Absalom se boom.
En daar hang ek, my voete raak nie grond nie en my gedagtes neem vlug.
Ek dink terug aan my pa wat vandag, ʼn ryklike 80 jaar sou geword het.
Hy was goed oppad, ʼn sterk mens sonder te veel skete en pyne.
Sy kop was sterk en God was sy anker.
Hy het altyd in ʼn gesprek met my verwys na God, hy het die Bybel of die “Swart Boek” soos hy daarna verwys het en God goed geken. Hy was net lief vir God.
Dit was asof sy verhouding met God anders was, hy het sekere dinge verstaan en met geweldige sekerheid oor party goed geleef.
Hy het gestreef na ʼn Moses-God verhouding met God.
Sy droom en begeerte was om met Moses te kan gesels.
Hy was ʼn nie-nonsens man, jy het altyd geweet waar jy met hom staan.
Sonder fieterjasies en pretensie het hy geleef, agteraf praat en skinder was nie deel van sy mondering nie.
Hy was ʼn goeie beplanner en het niks nagelaat nie, hy kon dinge tot uitvoering bring met presiesheid.
Hy was ‘ʼn plaas seun wat hard groot geword het en moes veg vir sy plekke sonskyn in die wêreld, wat hy ook gedoen het.
Hy het waardering gehad vir die klein en min dinge in die lewe.
Dankbaarheid was sigbaar in sy groen oë, wat deur jou siel tot in jou menswees gekyk het.
Hy het hard gewerk was lojaal en onstuitbaar en het baie mense se respek verdien en gehad.
‘ʼn Goeie pa met ʼn passie vir regverdigheid
Hy was bitter lief vir my ma, het altyd haar in ag geneem en hulle het alles saam gedoen.
Hul band was sterk en respek vir mekaar was die spilpunt van hul verhouding.
Vandag is my ma alleen, en dikwels oorweldig die alleenheid en verlange haar.
Ek verstaan dit, sou sy die een gewees het wat eerste weg sou wees, sou my pa presies soos sy gevoel het.
Hulle was een, God was hulle anker en beginsels die saal van hul perd.
Daar was altyd nog plek vir liefde en nog meer verstaan.
Hoe sê mens dankie sodat God werklik weet jy is opreg dankbaar vir die seën van sulke ouers.
Hoe sê mens dankie vir wonderlike kinderjare gevul met soveel mooi, vir ʼn pa, ma broer en suster wat binne mekaar altyd soveel van hulself kon vind.
Vir nuwe familie en kinders wat as gevolg van die bestaan en liefde van twee mense jou lewe kom vul het.
As ek vandag een wens op sy verjaardag kon hê sou dit wees om saam met hom en my boetie, wat natuurlik vanoggend eerste vir my pa in die Hemel geluk gesê het te kon sing.
Ek is nie seker nie, dit sou lekker wees as ek self vandag vir my pa kon geluk sê in persoon.
Saam die geluk se sou ek beslis sy opinie wou hoor ʼn paar ander dinge wat ek sukkel om te verstaan.
Dalk ook meer goeie nuus met hom deel en sommer net sit en harte uitruil en saam filosofeer.
Soms voel ek God het hom vroegtydig kom haal, maar weet ook dat God beskik, nie ons nie.
Geluk met pappa se mooi en hemelse verjaardag, in verwondering en heimlike afwagting wag ons geduldig en leef ons reis tot weersiens.