
SKOENLAPPER
Toe God by die maak van die insekte gekom het, dink ek Hy het moontlik ʼn spesiale plekke in Sy hart vir die skoenlapper gehad.
Skoenlappers is seker die mooiste en mees magiese insekte binne ons skepping, vol simboliek en betekenis.
Mense wat ʼn naby-dood ervaring gehad het, beskryf dikwels herinneringe van pragtige tuine vol blomme en skoenlappers.
Vir kinders is skoenlappers ʼn simbool van vryheid, vrede, skoonheid en miskien opregtheid.
Met ʼn fyn net as kind het ons skoenlappers gevang.
Jy bekruip hom stadig en net so met die opvlieg hou jy die net bo hom.
Jy moet saggies met hom werk, want hy is maar ʼn pieperige dingetjie.
Haal jy hom uit die net, hou jy hom saggies vas en bewonder sy mooi.
Sy vlerkies wat nooit ophou beweeg en sy lang antennas, hy gebruik dit vir reuk en om te kan onderskei tussen wat van waarde en nie van waarde is nie.
Die slim mense noem dit chemoreepsie.
Jy sou selde skoenlappers op grys en koue dae gewaar, dit is asof hulle gewag het vir mooi sonskyn dae sodat hul op hul beste vir ons kan lyk.
Om ʼn volwasse skoenlapper te word, is nie ʼn gegewe nie, vier lewensfases moet deurgaan word om die volmaaktheid van ʼn skoenlapper te bereik.
Nie tydens een van die fases weet die een organisme van elke fase, hoe die volgende organisme in die volgende fase gaan lyk nie.
Inteendeel weet hy nie eers van die volgende organisme se bestaan nie.
Elkeen moet sy lewensfase suksesvol deursien vir die volgende een om te leef en uiteindelik ʼn pragtige skoenlapper te word.
Tydens elke fase is daar ʼn definitiewe “geboorte” en ʼn “sterf” proses, amper iets soos “die een se dood, is die ander se brood” scenario.
As mens, gaan ook deur onophoudelike fases in die lewe. Soms is ons verdwaald en verward binne die fases.
Ons weet nie wie ons is nie, wat ons doel is nie en waarheen ons soms oppad is nie.
Met tye is ons “on top of the world” en beleef ons die perfekte skoenlapper fase.
Sonder waarskuwing kom die aanslae en nuwe fases en voel jy weer soos ʼn wurm of ʼn papie.
Miskien moet ons dit wat soms binne ons tydens ʼn sekere fase “sterf” sien as ʼn nuwe “geboorte”, iets wat ons as deel van die lewe begin koester en nie noodwendig moet vrees nie.
Mag jy al die mooi blomme van die wêreld aanraak tydens jou tye as skoenlapper.
Leef elke fase van jou lewe voluit met die wete dat daar altyd weer ʼn skoenlapper fase sal wees.
Streef dan om die mooiste en beste skoenlapper wat jy kan wees te wees.