BEDELAARS PERSPEKTIEF
Dit is vreesaanjaend om te besef hoe groot die nood in ons wêreld geword het.
Die wêreld het ʼn swaar kry plek geword, fisies en emosioneel.
Iemand, nogal in my oë ʼn bevoorregte persoon, sê nou die dag vir my, dit gaan goed met hom en hy is dankbaar hy het vrede, maar soek nog geluk.
Die dag as hy “geluk” vind sal dit dan nog net vreugde wees wat kortkom.
Vrede, geluk en vreugde is elkeen naby aan mekaar in betekenis maar ver verwyderd van mekaar as jy nie al drie het nie, dink ek by myself.
Klink gekompliseerd, maar dit maak tog sin, sê ek.
Wat van gesondheid?, vra ek die man, verseker is dit seker die mees belangrikste van alles, maar ons aanvaar maar net elke dag dit is ʼn gegewe, totdat jy eendag besef dat dit nie so is nie.
“Baie waar, ons is net nie genoeg dankbaar nie” , antwoord hy.
Dit bring ons toe gesamentlik by die besef dat dankbaarheid dalk alles saamvat, vir min of baie, as jy dankbaar is, is jy dankbaar.
Ons gesprek neem ons verder na hoeveel mense ons deesdae in ons dorp het wat werklik swaarkry.
Om elke hoek en draai en orals waar jy stop, is dit nie net meer die gesig van ʼn karwag wat jou smekend inwag as jy uit of in jou motor klim nie.
Êrens tussen die soekers is daar nog iemand wat vra vir ʼn geldjie, stukkie brood en selfs deesdae ʼn goed voorbereide smekings toespraak het wat hy sonder ʼn gebrek aan woorde met ʼn vlymskerp geheue elke keer herhaal as jy hom sien met jou volgende inkopie besoek.
Onthou, jy sien hom elke dag, hy sien honderde potensiële barmhartige samaritane, in die hoop dat een of twee wel die ware barmhartige samaritaan sal wees.
En daarom vra hy jou elke keer dieselfde vraag, juis omdat hy so baie mense vra en nie meer ʼn gesig of mens koppel aan sy nood nie.
Natuurlik reageer en hanteer elkeen van ons meer “bevoorregtes” op ʼn verskillende manier teenoor die mense.
Party, groet hul smekers, vra hoe dit gaan, ander skel en vloek hulle weer, terwyl die sienende blindes hul net eenvoudig geensins raaksien en ook horende doof hul smeek krete ignoreer.
Hoe dit ookal sy, dit is moeilik en as daar kits oplossings was vir al die wêreld se probleme sou dit wonderlik wees.
Ek dink tog dat elke moontlik klein verskil wat elkeen van ons elke dag kan maak tog ʼn rol speel, soms is ʼn groet of “jammer ek kan nie help nie”, juis hierdie klein verskil met ʼn groot impak – erkenning.
Heel moontlik gee ons ʼn klein stukkie erkenning en waardigheid aan die persoon wat ʼn papier noot moontlik nie kan bied nie.
Dit laat my met die volgende laaste gedagte; dat ons almal Inherent tog ook maar bedelaars is, God sê bedelaars, want ons kla en vra darem baie meer as wat ons net dankie sê of heelmoontlik verdien.
Dankie vir Genade!