
BEKOMMERNIS
Sonder vrae, luister jy elke dag na ander se bekommernisse, bekommernisse is ook nie meer ʼn sê ding nie.
Dit het nou ʼn sien ding geword, jy kan as jy net klein bietjie meer gefokus na mense kyk, die bekommernis op hul gesigte sien en in hul stemme hoor.
Mismoedigheid en wanhoop wat mense tot uiterstes dryf totdat hulle voel hul kan of wil nie meer aangaan nie.
Spanning, depressie en hartseer het meer as ooit deel van ons lewens geword, amper ʼn nuwe gesinslid, hy gaan slaap saam jou in die aand en staan saam jou op in die oggend.
Inteendeel, jy het nie meer nodig om jou alarm te stel vir opstaan nie, hy maak jou sommer al vroeg wakker.
Ten spyte van alles wat jy probeer, bly die ou swart hond agter jou met sy stert wat opgewonde swaai, elke keer as hy sien jou moed sak in jou skoene.
Dit is beslis nie die spreekwoordelike hond wat soos die gesegde lei, ʼn mens se beste vriend is nie.
Al wat die swart hond in gemeen het, is lojaliteit, want mense sukkel om hom af te skud, hy los jou nie maklik nie.
Ek het nog nie gehoor van ʼn kits oplossing nie.
Daagliks sien ek nuwe boeke wat potensiële oplossings bied vir die wêreld se probleme, almal van hulle word in hul miljoene verkoop en los beslis die skrywer se finansiële bekommernisse op.
Maar waar laat dit ons, want hoe meer ek waarneem sien ek dat die swart hond met sy swaai stert deesdae enige persoon volg, ryk, arm, geleerd, slim, oud en veral ons jonger geslag wat reeds in soveel toekoms onsekerheid leef.
Die hond is blind en luister nie na die stem van sy eienaar nie, hy floreer op gevoel en psigiese ingesteldheid.
Wat ek wel weet is dat opgee nie ʼn opsie is nie, God sê in sy woord dat ons bekommernisse nie ʼn sekonde in ons lewens sal toevoeg nie.
Ons bekommernisse gaan nooit totaal verdwyn nie, maar ons het nie nodig om daarmee op ons eie te worstel nie, ons word genooi om ons bekommernisse op God te werp, daaroor te bid en te glo dat God in beheer is.
Die realiteit is dat sekere goed nooit sal kan verander totdat ons dit self wil verander of doelgerig daaraan werk nie.
Vir sommiges is dit makliker as ander, party praat maklik, ander is stil swyend.
Indien jy een van die individue is wat vandag met die onaangename troeteldier sit, weet jy is nie alleen nie, hou moed, bly hoopvol, daar is altyd uitkoms en elke donker wolk het ʼn silwer randjie.
Ons sal baie keer nie verstaan hoekom of waarom nie, party keer moet ons net aanvaar en besef dat sekere goed is wat dit is.
Een ding is verseker, ons word nooit bo ons vermoëns beproef nie, al voel dit so.
Kyk terug op vorige lewens situasies waar jy al gevoel het daar is nie meer hoop of uitkoms nie, in daardie tye hou ons horlosies aan met tik.
Tog het jy wel op een of ander manier, met God se genade en liefde en ʼn ingestelde gees van nie opgee nie, deur die storm gestap en ander kant uitgekom, dalk bietjie nat maar lewendig.