
IS BLOED DIKKER AS WATER?
Kan dit waar wees, is bloed dikker as water?
Volgens die gesegde sou mens aanvaar dit is ʼn feit, wetenskaplik gesproke is dit mos nou maar wel so.
Ek luister onlangs na juis die argument en vraag tussen vriende aan tafel tydens ʼn braai geleentheid, twee van die partye is dit eens dat bloed beslis dikker is as water.
Die res van die ete geselskap sê nee wat, dit mag dalk dikker wees maar kyk dan maar net hoe families en gesinslede mekaar deesdae hanteer en dit bring jou tot kommerwekkende insigte en wek twyfel.
Natuurlik was daar twee hoog verontwaardigde manne, wat moes hoor dat ʼn sussie of ʼn ma bo hul as eggenoot gekies sal word, as daar dan nou ʼn keuse gemaak moet word, ek persoonlik dink dit was maar tong in die kies gesê.
As ek die gesegde reg verstaan het die hele kwessie van bloed is dikker as water eintlik niks te doen met die bogenoemde nie.
Die gesegde verwys na die bloed verbond wat sê dat die bloed dikker is as die vrugwater van die baarmoeder, hieroor kan jul maar gaan nalees.
Daar is ʼn geweldig klomp menings en opinies hieroor.
Meteens neem dit my na ʼn koue realiteit van die lewe en die wêreld waarin ons vandag leef.
Meeste Individue is net op hulself gefokus, wat ek die minste verstaan is die mag en krag van die daaglikse gewoonte woorde, soos ek dit noem.
Woorde wat ons so maklik sonder bedoeling net sê.
Goed soos; “ek is jammer, ek het jou lief, ek sal altyd daar wees vir jou, jy is die beste” ens.
So trappie erger; “ek bel jou later, ek wou nog by jou uitkom, of jy is heeltyd in my gedagtes” en dan beslis die ergste een “ek bid vir jou”.
ʼn Ou oom het eendag gesê dat as ʼn man vir jou sê hy bid vir jou, moet jy maar weet dat meeste van daai mense selde vir hulself bid, wat nog van jou, behalwe as die ou nou ʼn predikant of so is.
Ek glo wel dat bloed moontlik dikker is as water as dit by ouerskap en die ouer kind verhouding kom. ʼn ouer is maar net ʼn wonderlike ding in meeste gevalle, en ons is darem maar almal baie lief vir ons kinders.
Ouers het hul kinders soms so lief dat hul verby hul foute en tekortkominge kyk en hul maklik vir enige iets vergewe, soms voel dit vir my dat ons as ouers blind is vir ons kinders se foute, of gedeeltelik blind.
In baie gevalle ontbreek daar amper ʼn eerlikheid van opinie waarmee ʼn ouer in sy hart rondloop maar net nie met sy kind kan deel nie, al is dit hoe moeilik.
Hoe sê jy dan nou vir jou kind wat so toegewyd en hard oefen by die skool en eerste span rugby of hokkie speel, dat hy net eenvoudig te lui, gemaksugtig of net eenvoudig selfsugtig optree as dit by sy huis take of gedrag teenoor ʼn sussie of ʼn boetie kom.
Is dit moontlik dat ons baie keer as ouers ons eie tekortkominge in ons kinders se optredes raaksien, en dit maar gelate aanvaar omdat ons self nog nie eers dit binne eie menswees aangespreek het nie?
Hiermee saam dink ek, het bloed familie so maklik die geneigdheid om mekaar te manipuleer om elkeen sy eie doelwit te bereik of sin te kry, maar in die beste van vriendskappe gebeur dit seker ook maar.
Hul se mos jy kan nou wel nie jou familie kies nie, maar beslis jou vriende.
Is daai spesiale vriend wat jy ten einde laaste na vele jare nog steeds saam ʼn pad mee stap dalk tog nie maar deel van die antwoord nie.
Mens gaan deur soveel fases in jou lewe en met elke fase is daar nuwe vriende wat jy ontmoet en maak, leer ken en ook verloor, maar dan is daar daai spesiale een of twee waarna ek hierbo verwys wat maar net deel begin vorm van jou DNA.
As ek nalees wat die Bybel geleerdes sê bring dit my tot nuwe insigte.
Water was skoon en gee lewe, maar Jesus se bloed het ons sondes skoon gewas en Christus se bloed gee die ewige lewe.
En dit is vir my die mooi hiervan, as dit by God se liefde vir ons kom, is dit nie eens debatteerbaar nie, Sy liefde en genade vir ons is maar net onverstaanbaar binne die mense konteks.
Hy het immers sy seun vir ons aan die kruis laat sterf en Sy bloed is vir ons gestort.
Met dit in gedagte dink ek nie eers meer dat die gesegde of konsep van bloed is dikker as water van waarde is nie.
Miskien moet ons maar net aanvaar, of dit nou familie of vriende is, êrens sal daar ʼn bietjie water in die bloed wees as dit by sekere aspekte van die lewe kom.
Volgende keer as jou kind sy foutjies maak, spreek hom maar aan, want reg en verkeerd het niks te doen met bloed wat dikker is as water nie.
Ian Badenhorst
Baie inseggewend my ou maat! Stof tot nadenke!
Edward
Hou van jou opregte eerlikheid en eerbied Edmund 😊
Dis dalk baie waar dat ons ons eie familie kies al is dit nie ons eie bloed nie.
Ons maak baie foute en die hemel weet ons gaan nog baie maak.
Kan ons mekaar onvoorwaardelik vergewe vir ons foute?
Dis hoe die duiwel verhoudings aanval….
Mag Jesus ons help!