Die kyk in die spieël
Soms voel dit vir my of die lewe en sy refleksies soos ʼn kyk in die spieël is.
Ons kyk na die wêreld waarin ons leef en vorm ʼn beeld van wat ons wil sien, en nie noodwendig van wat ons werklik sien nie.
Ons sien selde die ware beeld van wat die wêreld ons wil wys, en skep ons eie realiteite.
Ons sien meestal net dit wat ons graag wil sien, wil hê en glo en baseer ons begeertes, drome en soms ons hoop hierop.
Elke oggend is deel van ons daaglikse regmaak ritueel ʼn kyk in die spieël.
Ons kyk of ons hare netjies is, of die kleur van ons hemp ons pas, of ons mooi genoeg lyk, of ons gewig verloor het en so gaan die lysie aan.
Ons soek antwoorde op die vrae wat ons as mense laat beter voel oor onsself.
Party dae pas swart ons beter, op ʼn ander dag sal blou of groen die ding doen, maar is dit werklik die kleure wat die verskil maak of maar net ons gemoed en geestes ingesteldheid?
Ten einde laaste kan ons net sekere aspekte van wat ons sien regmaak, soos die skewe das, ons hare wat uit plek is of dalk die kleur van ons hemp.
Ons diepere menswees “issues” waarmee ons elke dag worstel, ek noem dit ons “spieël emosies” is moeiliker om raak te sien en reg te stel, dit neem tyd en harde werk en ʼn psigiese ingesteldheid en fokus.
Saam met elke dag se in die spieël kyk is dit bykans onmoontlik om die beelde van die verlede te herroep en met detail te onthou.
Dink vir ʼn oomblik terug toe jy in die spieël gekyk het met jou eerste graad 1 dag, jou laaste dag van jou graad 7 jaar of jou 10de verjaardag.
Kan jy in detail of selfs enigsins onthou wat jy gesien het en hoe jy gelyk het?
Wat jou toe gelukkig of ongelukkig gemaak het?
Is dit moontlik die antwoord van hoe ons as mense die beelde van ons menswees sien en interpreteer.
Heel moontlik is dit hoekom ons ʼn vooropgestelde idee het van hoe ons onsself en ander sien, en hoe ons glo ander ons sien, kyk ons te min of te veel deur die oë van ander na onsself?
Maklik om te se ek gee nie om wat die wêreld of ander mense van my dink nie, ek is wie ek is, maar tog is die beeld wat ander van ons vorm in alle eerlikheid, baie keer die dryfveer van ons optredes en besluite.
Dit voel soms vir my dat ons met tye te veel vasgevang word in ander mense se wêrelde, so verloor ons in die proses so bietjie identiteit en die ware vryheid van wie ons is.
Saam hiermee kom daai obsessie om ons met ander te vergelyk en heel moontlik te kompeteer, en natuurlik die begeer monster, die onbelangrike raak belangrik en die niksseggende raak betekenis vol en voor jy weet, leef jy nie meer jou eie reis en lewe nie.
Moontlik fokus ons te veel op die buite lyne wat ons in die spieël sien.
Ek dink dit is net al hoe meer belangrik om meer en dieper in ons menswees spieëls te kyk, dalk harder probeer om die mooi raak te sien en net onsself te wees.