Title Image

Blog

GEBED VIR N NUWE DONKIE KAR

Dankie Here vir die stof pad, harde klippe en dit wat swaar is op ons menswees.

Dankie dat die laste van die lewe een na die ander op mekaar volg.

Dit laat my soveel meer glo dat daar ʼn Hemel is.

Ek sien sommer vandag weer uit na dit wat wag.

Eintlik bid ek net vir ʼn nuwe kar Here, Klara en Stefaans kan mos nie bid nie.

Bileam se donkie het gepraat, God se engel het hom laat praat, hy het mos die donkie met ʼn stok geslaan.

Ek werk mooi met hulle, want U het Klara en Stefaans oor my pad gebring, net soos Maria se donkie.

As ek met die donkie kar afsit dorp toe en my pennies is min, is dit asof Klara en Stefaans weet hul gaan lig terug trek huis toe.

Jy koop mos min met amper niks.

Maar die dag as die pap dik is, is dit ʼn ander storie.

Met meer mens trek ons swaar terug, swaar trek maak hul vroeg lê.

Die kar se wiele het Johannes vasgemaak op die as van ʼn ou Ford F100 wat hier teen die pas afgeloop het, amper 15 jaar terug.

Klara en Stefaans was toe nog ʼn gedagte.

Die kar se wiele draai nie meer so rond soos hulle moet nie, hak-hak.

My donkiegoed smag na ʼn nuwe ryding Here, nes hul nooi.

Jan donkiekar het belowe dat die volgende verongelukte bakkie se as en wiele aan Klara en Stefaans behoort.

As dit moeilik gaan verduidelik ek vir hulle wat wag, hulle kan dalk nie bid nie Here, maar verstaan tog te goed.

Miskien glo hulle ook in die Hemel,Here.

 

POST A COMMENT