Title Image

Blog

GELUKSBLIND

Opkyk is al wat ek mense deesdae sien doen, so amper asof die spreekwoordelike, “Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?” ʼn realiteit geword het.

Dit voel vir my dat die lewe en sy uitdagings ons dwing om weer en meer op te kyk as ooit tevore.

Orals waar ʼn ou gaan en met mense praat of dalk na ʼn gesprek tussen vreemde persone luister, hoor mens hoe seer hulle het, hoe swaar dit gaan en hoe soekend almal na antwoorde is.

Natuurlik kom antwoorde en oplossings nie vanself nie, en moet ʼn ou soms diep delf, net soos wat jy maak om ʼn apies doring uit jou voet uit te haal.

Wat ook net sal gebeur, sou jy dit waag om kaalvoet in die bos te stap.

Om daai doring uit te haal, moet jy op jou tande byt en grou met ʼn skerp voorwerp soos ʼn naald, tot dit partykeer bloei.

Dit is eers as die doring uit is dat die pyn beter word en dit ook nie meer sweer nie.

Party dae word mens wakker met ʼn hunkering en verlange, jy staan moeilik op, sulke dae tel ek eenvoudig myself by die kraag op en maak net ʼn begin.

Op dae soos die, proe selfs die eerste koppie koffie nie soos wat die eerste koppie koffie moet proe nie.

Dit is in sulke dae wat ʼn ou die heeltyd voel asof jy na iets verlang, iets mis, maar jy weet nie wat nie.

Amper soos wanneer mens laat aand rondkrap in jou yskas, jy maak jou yskas oop, staan, staar en sonder dat jy dit vind waarna jy soek, maak jy weer die yskas toe.

Ongelukkig is dit nie waar dit stop nie en herhaal die ritueel homself totdat jy ten einde laaste besef dit is nou slaaptyd.

Die vreemde ding is dat mens eintlik weet wat in jou yskas is, maar is daar tog valse hoop om iets te vind wat nie bestaan nie.

Ek is oortuig dat meeste van ons die inhoud van ons yskas beter as die binnekant van ons eie siele en menswees ken, maar tog soek ons gereeld antwoorde in die diepste deel van ons binneste, wetende dat ons nie ʼn antwoord het nie, of soms reeds die antwoord gevind het.

Ek verwys na die onverklaarbare obsessie vir die oop en toemaak van ons yskaste as die “yskas-effek”.

Dit bring my by die kwessie van selfrefleksie, introspeksie en die hunkering van verlange na die onbekende wat tog soveel emosie binne ons wek.

Deesdae voel dit net vir my asof ons meer en meer die yskas effek op almal rondom ons toepas, in plaas van onsself.

Ek staan in ʼn winkel en luister na mense onbekend aan my se gesprekke, waar twee vriende of vriendinne mekaar raakloop en onverwags trollie vergadering hou.

Dit is natuurlik ook baie makliker om sonder vooroordeel na mense sê gesprekke te luister wat jy nie ken nie, die kanse dat jy hul sal oordeel is minder.

Die voorafgaande laat my besef dat ons Geluksblind geword het, ons fokus te veel op wat ons ongelukkig maak en die negatiewe om ons, dat ons nie eers net meer vir mekaar kan sê dit gaan goed nie.

Ons fokus op dankbaarheid is buite balans, ons maak onsself siek met negatiwiteit en luister en omring ons te veel met mense wat negatief op ons impakteer.

Ons oordink alles en verloor onsself in leë gedagtes.

Miskien moet ons, ons yskaste minder oopmaak, op ons tande byt, ophou kaalvoet in die bos stap, die apies doring verwyder en besef dat dit die klein dinge in die lewe is waarvoor ons meer dankbaar moet wees en oor gelukkig moet voel.

Mag jou lewens-katarakte verwyder word en jou geluksblindheid spoedig genees

POST A COMMENT