
Groen briefie vir my boetie (27.02.1965 – 25.05.2021)
Die uurwyser het sy draai gemaak
Die sekonde wyser tik voort
Die tyd en moment verewig in die verlede
En die dag van more net vir die sonkykers beskore
Die dood is die vreesaanjaendste lewensrealiteit wat ons as mense moet trotseer.
Die tyd, plek, ruimte en datum met sy onbekende oorsaak en onvoorsiene gebeurtenis is duister soos die donkerte van die nag wat volg op die dag.
Deur God so bepaal en die detail van die dood ʼn onoplosbare raaisel.
Sommiges het ʼn geweldige vrees vir die dood terwyl ander dit aanvaar as deel van die skepping en die voltooiing van die lewens sirkel van die mens se tydelike bestaan en oorgaan na die nuwe ewige begin.
Vir ander is die onbekende reis van die dood wat voorlê weer iets waarna hulle met senuagtige afwagting uitsien, bepalend deur ouderdom, gesondheid, jou lewens ligginpen en jou Godsverhouding.
Met my laaste kuier by my boetie, Nico het ons eendag hieroor gefilosofeer.
Ons het net gery, geen ligginpen, om te gesels en tyd saam te spandeer, natuurlik wou hy altyd ry omdat stilsit vir hom onmoontlik was.
Tussen deur die gesprek lui sy foon met reëlmaat en antwoord hy elke oproep geduldig en neem hy deel aan gesprekke, met entoesiasme en gevulde emosionele passie.
Elke stukkie neem hy persoonlik op en wil op alles antwoorde en oplossings bied.
En sodra hy totsiens sê volg sy woorde, “Jammer man boet”, dan vertel hy my van die oproep, halfpad deur die gesprek bel hy weer vir Debbie (sy vrou) en na die tweede totsiens vra hy my opinie oor die eerste oproep.
Tydens ons gesprekke deurreis sy gedagtes die wêreld en dan sal hy skuins op sy lip byt en vra, “wat het ek nou laaste gesê”?
Ons het relatief kort terug in ons mens horlosie ons pa begrawe en die dood was vir ons ʼn groot realiteit en die ontydigheid daarvan was onverstaanbaar.
Ons het die oggend van ons rit gesprek tot die slotsom gekom dat ons nie bang is vir die dood nie, juis omdat ons nie beheer daaroor het nie en dit ʼn besliste feit is van ons bestaan, net soos ons geboorte.
Die eengesinde raakpunt was die feit dat ons beide dit sien as ʼn nuwe begin van ʼn nuwe lewe saam ons skepper.
Ons stem toe ook saam dat God met elkeen van ons ʼn eie verhouding het en ons met Hom, en dat God hom nie laat beïnvloed deur ons verhoudings met ander nie, want ons kan God nie beïnvloed nie.
So God het nie vir oupa Willie kom haal omdat daar noodwendig ʼn rede was nie, want al dink ons dit was te vroeg of pappa wou nog baie doen, is dit ons opinie en nie God sin nie.
En toe herinner Nico my aan ons pa sê woorde, mense wik en weeg, maar God beskik, soos God dit wil, en dis reg met my.
Met ʼn rustige gemoed en tevredenheid in sy hart en die sagte kyk van sy blou oë, het ek iets op daai oomblik ervaar wat Goddelik was in Nico.
Die res van ons gesprek was aanhalings van ons pa, sy gewoontes, sê goed en ons klein tyd tye was deel van die refleksie.
Daar was ʼn leemte in my boetie se gemoed, ʼn seer in sy stem en ʼn verlange in sy oë.
Ek het besef dat alhoewel hy ouer is, hy vir my “klein” voel, ek het vir die eerste keer sy seer en gemis van my pa se teenwoordigheid in sy lewe gedeel en het ek gewens ek kon dit vir hom spaar.
Ek kon vroeër die oggend toe ek, Nico en Debbie in hul kombuis tee gedrink het reeds dit in beide hulle oë sien, ʼn gemis, ʼn soeke na iets wat vir ewig weg is.
So breek Dinsdag 25 Mei 2021 aan.
N mooi oggend in die Boland, die Paarlberg is blink en die berghange is grasgroen.
Daarna volg ʼn normale whatsapp groet oggend tussen broers, 1500km van mekaar
Dit is die oggend van my boetie se laaste dag op die mense aarde.
Vanoggend se geniet jou dag en lief vir jou boet, met ʼn rooi hartjie op Whatsapp sal voortaan net by die datum op my foon bly, 06:26.
More oggend sal ek nie weer die boodskappie kry nie.
Nooit het ek gedink of sou ek kon glo dat Koewa, soos ek hom genoem het, vanaand by God sou wees nie
Sy dogter, Nicole verjaar en my beplanning was om my boetie te bel en met haar ook sommer te praat as hulle saam ʼn stukkie koek in die eetkamer van ons geboorte huis sou geniet het, dit was mos die instelling.
Ek het wel later die aand gebel, maar nie om geluk te se nie, want ek kon nie.
Vandag Maandag die 31ste Mei 2021 is al my boetie se 7de oorslaap in die Hemel.
Sag in God se hemelsbed en as afrigter van die engele stoei-span, beleef ek in my geestes oog hoe hy by ons pa sit en gesels en vroeg opstaan om die hemel se tuin netjies te maak en die strate van goud te vee.
My hart is seer en stukkend en met tye voel dit of ek uit ʼn nare droom gaan ontwaak.
Trane en fisiese pyn van die doods angel se impak vlam op as ek aan my gesin se hartseer dink, en as ek kon plekke ruil met hom sou ek.
Die volgende belangrike gebeure kom op in my geheue:
- Ons grootword dae en die deel van ʼn kamer
- Die spring in sy bed en in sy arms lê as die bure sê katte baklei
- Die saam speel, visvang, duiwe skiet en hase jag
- Boks lesse, bloed trek en kaskarre en see vakansies
Die enigste ander hartseer moment wat ek kan onthou was toe Nico moes aanmeld vir sy militêre diensplig ʼn my std 2 jaar
Sy groen briefie wat hy aan my gestuur het in my standerd 2 jaar met die aanbreek van sy diensplig en dan die sit en wag vir sy boodskap saam tannie Esme Everard op die radio.
Nico was ʼn yster soos ons die Boland sê, ʼn masjien.
Sy raad en advies altyd deurdink.
Sy beskeie menswees en erns met dit wat hy mee besig was, was onmeetbaar.
Ongelooflike toewyding ten alle koste en ʼn never give up attitude.
Versorging en omgee vir almal rondom hom en selftrots.
Sy ongekende liefde vir stoei en sy stoei familie
En die mooiste eienskap, sy sukses in stil swye en sy dade meer as woorde.
Sy dood O God, dit laat ons stom en koud en soekend na soveel meer
Al verstaan ons so min, sal ons tog met tyd begrip en vrede vind
Boet jou groen briefie is nog by my, veilig bewaar in my ou weermag kas.
Die woorde van die briefie in my hartskluis en die laaste kyk in jou oë toe jy my op die lughawe vir die laaste keer gegroet diep in my hartskamer.
Ons en ek gaan jou baie mis en die goedjies wat ons gesê het ons gaan nog saam doen, gaan ek doen sonder jou maar saam jou.
Hou asb. vir pappa geselskap en stuur groete vir God, se asb. vir Hom dankie dat Hy jou vir ons geleen het, in die stilte van jou sukses sal jy vir ewig by ons wees…..
Lief vir jou Koewa.