Title Image

Blog

HOOG VLIEG EN DIE GROEN MONSTER

As jy wil hoog vlieg, is daar verseker een ding wat jy moet weet en dit is dat jou vlerke sterk genoeg moet wees om jou te dra.

Jy moet weet hoe om sterk winde te hanteer, geen vrees vir hoogtes hê nie en weet dat jy nader aan die son beweeg.

Almal wil deesdae arende wees, hoe groter, sterker en hoe hoër ons kan vlieg is al wat vir sekere mense belangrik geword het.

Natuurlik is dit belangrik om saam die regte arende in vlug gesien te word.

Soms ten koste van onsself en ander, gegewe die feit dat ons almal nie arende is nie.

Dan, eendag breek ons ʼn vlerk en val ons te pletter.

Feit is dat die wêreld ook mossies, duiwe, kwikstertjies en kwêvoëls nodig het.

Dit is ons eie onvermoë om tevrede te wees met wie en wat ons is, asook die feit dat ons glo ons slegs gemeet word aan ons aardse besittings en waarde wat ons terughou.

Daarmee se ek nie streef na meer nie, beslis nie.

Soms moet ons net aanvaar dat die lewe ʼn journey is, en dat jy moontlik met tyd jou arendsvlerke sal kry.

Punt is dat soveel mense probeer hoër vlieg as wat hul tot in staat is.

Die eie ek, ʼn strewe na aanvaarding en gevoel van onvergenoegdheid dryf mense tot uiterstes.

Afgunstigheid en jaloesie is ʼn monster wat sy eienaar stadig verteer en verwoes.

Daai ding van hulle is alweer  oorsee, hulle het ʼn groot huis, kyk hul nuwe kar, kyk hul  kinders …..,en so gaan die lysie aan.

Snedige aanmerkings, skinder stories en aannames wat meestal ongegrond is, is petrol op die vuur wat die spreker daarvan se lewensvreugde steel.

Dit laat sommiges so fokus op die lewe van ander dat hulself vergeet om voluit te lewe binne dit wat die wêreld hulle bied.

Vir my werk dit om ander dit te gun wat hul het en bly te wees vir hul sukses, omstandighede en aardse rykdom.

Miskien lê die antwoord daarin dat ware geluk ʼn hartsding is, indien jy gebless is met baie is dit ʼn bonus en genade.

So sit maar ʼn wag voor daai mond, leer dalk eers die “bevoorregtes” se menswees en harte ken voordat jy toelaat dat hul geluk joune steel.

Moontlik ontneem jy jouself van baie meer as die bietjie wat jy ander gun.

 

POST A COMMENT