Title Image

Blog

HOOP EN GELOOF -SOEKEND?

Met verwysing na die dag se gebeure op die 13 Julie 2021 deel ek graag die volgende met julle:

“Ons wêreld is op sy kop gedraai”, sê ʼn omie vroeg die oggend vir my toe ek by die plaaslike Agri-mark stop.

“In my lewe het ek nie gedink ons sal ooit by die punt kom nie, dis die tekens van die eind tye”, sê die oom.

“God straf ons, omdat ons so afvallig geword het en in sonde leef”, sê hy.

“Ja nee oom, die wêreld is deurmekaar, gelukkig het ons darem nog baie om voor dankbaar te wees, of hoe dink oom? “ vra ek.

Die oom antwoord met ʼn baie ernstige gesig “dit is seker so maar”……… en die res van sy opregte harde woorde  sal ek eerder nie aanhaal nie, hy het wel ʼn paar geldige punte.

 

Soos die dag se ure omvou en verby tik, die geweld en afbreek van ons land gedurende elke horlosie uur voortduur. Sosiale media onophoudelik voort gons met video’s en die hoogtepunte  van al die uiterstes van onaanvaarbare barbaarse gedrag en vernietiging van die waardevolle, kruis my paaie met net nog meer mense wat voel soos die omie vanoggend.

 

Asof die hele Covid epidemie, die verlies van lewens van soveel mense, onbekend en nabye familie nie genoeg is nie, sukkel ek om te verstaan dat die plunderaars nie besef wat die impak van hul optrede is nie? Onherstelbaar vernietigend.

 

Opinies en gedagtes vloei deurlopend die heel dag deur my denke, vir die eerste keer in ʼn lang tyd moet ek werklik sê, en erken, dat ek die erns en bekommernis nie net hoor nie, maar ook fisies waarneem en beleef in mense se oë. Hul gesigs uitdrukkings spreek van tasbare angs en bekommernis.

 

Elke persoon met wie ek deur die loop van die dag gesels is verward, bekommerd of leef in vrees en is soekend na antwoorde oor ons deurmekaar wêreld.

“Waar laat dit ons?”, vra ek myself.

Is ons eenvoudig oorgelaat aan ons eie lot en uitgelewer soos ʼn skaap ter slagting?

Wel ek is seker dit is hoe baie van ons voel.

 

Die ander krag woord vir die dag was die woord “Normaal” natuurlik binne konteks. Feitlik al die bogenoemde mense worstel met die vraag of die lewe ooit weer gaan terugkeer na normaal.

 

Met in agneming van dit alles, het ek ook geweldig baie potensiële oplossings vir ons land se probleme by dieselfde mense gehoor. Sommige oplossings en idees vergesog in terme van die praktiese uitvoerbaarheid en totaal onrealisties.

Ander se oplossings niks meer as wensdenkery terug na die goeie ou dae, en dan ook die meer passiewe “oplossing-sieners” wat sê dat ons net verby alles moet kyk, ons gedagtes positief moet fokus, op die goeie en die mooi van die lewe.

 

Maar so eenvoudig kan dit mos dan nou nie wees nie, dink ek by myself, ons is mos maar net mense en wil weet wat om ons aangaan.

Ons mag voel soos ons voel, bang wees, in onsekerheid leef en verward voel.

Mense het die afgelope jaar geweldige angs, trauma, sosiale aanpassings en ongekende inperkings van ons sosiale bestaan beleef en trotseer.

Die impak hiervan is blywend en in baie gevalle lewensveranderend, besighede het toegemaak, mense het hul werke verloor en die lys gaan aan.

Alles wat ons moontlik op ʼn daaglikse basis nodig het om net normaal te kan funksioneer is van ons weggeneem en buite ons beheer.

 

Of dinge weer en teen wanneer normaal gaan wees, glo ek, weet niemand van ons met sekerheid nie.

 

Dit is verseker makliker gesê as gedaan maar ongelukkig is ons nou binne die  kern van ongelooflike chaos , wanorde, onsekerheid en die grooste gevoel van magteloosheid.

Verder voel meeste van ons verseker dat die klein bietjie verskil wat ons wel as individue kan maak, nie meer ʼn verskil gaan maak nie…. en ons is almal moedeloos.

 

Ek het ook nie antwoorde nie en my oplossings-reis het wêreld vleuels geneem, die enigste stukkie troos waar ek by uit kon kom, is hoop en geloof.

My gedagtes gaan terug na ʼn paar jaar gelede toe ek in persoon na Hykie Berg sê storie van hoop in persoon geluister het.

 

Vanuit sy verhaal is dit duidelik dat wanhoop, ongeloof en absolute verval tot ʼn punt van geen, maar geen uitkoms ʼn realiteit is.

Die een deel wat egter vir my hoop gee binne sy verhaal, is waar Hykie verwys na die feit dat hy by die rehabilitasie sentrum in Kommetjie gebid het.

Wat belangrik is, is om mooi te verstaan wat Hykie sê, hy sê hy het aanvanklik nie geweet waarvoor of vir wie hy bid nie, maar hy het aanhou bid.

Hy het ook met sy groep sessies besef dat hy nie alleen is nie, en dat daar ander mense is wat dit wat hy deurmaak ook deel.

Die punt wat ek probeer maak is dat ons nie hoop en geloof moet verloor nie.

Hykie het aanhou bid, en sy redding het gekom.

 

Ek dink wat Hykie aanhou laat bid het binne die onsekerheid dat hy nie eers weet waarvoor of vir wie hy bid nie, is Goddelik en buite ons konsepsuele verstaansraamwerk.

Al voel jy ook, soos duisende ander Suid Afrikaners dat jy verby moedeloos en naby aan opgee is, en heel moontlik ook voel dat bid nie help nie, of selfs moontlik nie seker is waarvoor of vir wie jy bid nie en wil moed opgee….is daar verseker hoop.

 

Leef met die wete dat jy nie alleen in die stryd is nie, dat jy dit aan jouself, jou kinders, ouers, vriende en sommer almal wie jy nog moet leer ken verskuldig is om aan te hou glo en dat niemand jou hoop en geloof kan wegdra of plunder nie.

 

Ek laat julle met ʼn laaste gedagte van Hykie tydens ʼn onderhoud met Maroela Media waar hy sê “Ek glo as iemand nog asem haal, is daar nog hoop”

So kom ons hou aan asem haal terwyl ons nog kan, hou asseblief aan glo, leef met hoop en hou aan bid.

POST A COMMENT