HOOR OF LUISTER JY?
Binne ʼn oorvol mense wêreld met al sy kompleksiteite, is daar tog ʼn aardse alleenheid.
Individue wat in ʼn wêreld van ʼn eie ek in ʼn selfgesentreerd “siels en leefwêreld” bestaan.
Het jy al met iemand gepraat, hy of sy hoor maar luister nie, knik net hul kop of uiter ʼn mmm of ja, so amper asof jy hul pla… geen oogkontak.
Hul vra jou ʼn vraag, jy antwoord, tog antwoord en praat jy met jouself.
Die vermoë om enigsins dit wat jy gesê het te herroep bestaan ook nie by die persoon nie.
Soms is jy besig in so gesprek en die persoon onderbreek jou deur sy foon te antwoord of sommer prontuit jou te onderbreek of in die rede te val.
Soms maak hulle jou sinne klaar om net weer hul eie stem te hoor.
Die gesprek neem ʼn nuwe wending en jou gesprek inhoud of dit wat jy wou deel word ongedaan gemaak.
Is dit werklik so dat ons net te besig geword het om na mekaar te luister of is dit eenvoudig ʼn kwessie van respek of selfvoldaanheid.
Nodeloos om te sê dat die detail van so ʼn gesprek half of buite konteks verstaan of begryp mag word.
Gou onstaan halwe waarhede en hoor sê stories wat baie slegte gevolge kan hê.
My gevoel is as ons nie werklik luister nie, is dit moontlik ʼn groter teken van nie omgee nie en minagting, en is dit beter om nie die gesprek te hê nie.
Dit bring my by die vraag, wat van daai persoon, ʼn eggenoot, kind of vriend wat werklik net ʼn oor of klankbord nodig het, wat se moontlike behoud by praat lê?
Wat nodig het dat iemand na hom of haar luister, wat graag waarde agting as mens soek of dalk bemoediging of hulp?
Dikwels sal mense na ʼn tragiese insident, sê, “as hy of sy net gepraat het.”
Maar tog so dikwels praat ons en hoor niemand ons nie, niemand luister werklik nie.
Miskien moet ons net meer tyd maak om werklik vir mekaar te luister, ons eie belangrikheid en behoefte soms opsy te skuif, stil te bly en ʼn verskil te maak..