Innerlike Leegheid
As jou hart so seer word, en heel word nie aan tyd gekoppel is nie, en die enigste tydelike genesing
vir die moeilike tye jou herinneringe is.
Dan kniel ek voor God en neem my gedagte gang ʼn jaar terug.
Toe die aanbreek van ou Kersdag vir ewig nuwe gestalte en betekenis sou bring en iets anders in jou menswees kom vestig het.
En jy soveel vrae het en dit voel of God jou nie wil antwoord nie, en jy magteloos moet ervaar dat menswees veel meer is as net jy.
Dat leeg wees nooit leeg is nie, dat daar altyd of…geluk, hartseer, dankbaarheid of een of ander emosies binne die leegheid van jou menswees is.
Dat jy elke dag diep binne jou diepste moet soek en seker maak jy vind jou leegheid, want dit is dit wat jy vind, wat jou vul en sin gee aan jou menslike bestaan.
Die dood is net dit wat dit is, die dood.
Dood is finaal, koud en klinies – eendimensioneel onverstaanbaar.
Dit laat jou met min keuses al voel dit nie so nie.
En besef ek vandag dat na dit als, Kersfees nie meer oor die blydskap van Jesus se geboorte gaan nie, maar oor die onvoorwaardelike liefde van God, toe Hy Sy Seun vir ons aan die kruis laat sterf het.
Al het ons soveel verloor, het ons elke dag weer iets nuuts ontvang, nog ʼn dag, nog tyd, nog meer liefde vir mekaar en meer waardering vir dit wat werklik saak maak en van waarde moet wees.
Vandag, God, wil ek bid en dankie se vir al die mooi in die lewe, vir mekaar, vir my familie wat elke dag in my hart naby by my is, maar tog so ver, vir die nuwe rotse en pilare in my lewe, wat my leegheid vul en sin gee aan die onverstaanbare binne soveel nuwe kompleksiteite van die lewe.
Dankie God dat ons gevulde leegheid mag ervaar en net mag wees.