
KEUSES EN BESLUITE
Dit is maklik om keuses en besluite te maak, om daarmee saam te leef is egter nie altyd maklik en eenvoudig nie.
Veral as ons in selfgeskepte wêreld leef waar ons almal wil gelukkig hou met die onvermoë om ʼn standpunt in te neem gebaseer op beginsels en integriteit.
Ons kies dan die middel grys weg want wit of swart is te moeilik.
Natuurlik is dit verbysterend en onverstaanbaar dat mense tussen dit wat hul vandag sê, glo en uitspreek totaal die teenoorgestelde die volgende dag glo en doen.
Ondeurdagte of emosionele keuses en besluite eindig gewoonlik in ʼn situasie van spyt wees op.
Met die “as” woord wat dan jou gewete moet sus, “as” is egter net verbrande hout sê hulle.
Sou jy raad vra is dit ook soveel makliker om iemand se raad te volg wat sê wat jy wil hoor, wees versigtig want soms is raad en ʼn poging om jou te manipuleer baie naby aan mekaar, net anders gespel.
Ons raak maklik verlore in iets wat ons graag wil glo, ons klou daaraan vas met die hoop dat ons teen alle waarskynlikheid wel gelukkig en vervul sal word.
Ons oortuig onsself dat ons keuses reg is, al is dit ten koste van soveel meer waardevolle dinge wat ons verloor of kan verloor.
Ons sal soms advies en raad volg van persone wat beslis nie ons beste belange op hul hart dra nie of tussen twee pole vasgevang word in ʼn web van donkerte.
Soms is ons bereid om alles op te gee en weg te stap, solank ons net kan wegkom met die neem van die maklike besluit.
Gewoonlik word dit vooraf gegaan deur die volstruis sindroom.
Druk jou kop in die sand, sien niks en hoop die probleem is weg as jy jou kop weer optel.
Teen ons beter wete ignoreer ons probleme en besluite omdat dit ʼn makliker oplossing is as om daarmee te moet deel en moontlik die kort termyn pyne en konflik wat saam dit gaan te vermy.
Soms sal dit dan die tweede of selfs derde kopstamp van dieselfde fout wees wat ons wetend begaan, miskien is donkies slimmer as ons.
Die slegte ding wat altyd gebeur is dat die onopgeloste probleme en besluite wat jy teen jou beter wete neem, se gevolge altyd êrens uitdop.
Soos die gegewe dat die waarheid altyd, altyd uitkom.
En dan eendag besef ons, ons keuse was dalk nie die beste nie, ons geluk was oppervlakkig en oordeelsvermoë het ons in die steek gelaat.
Ons besef dan dat ons net weer is waar ons was, gevul is met ʼn onverklaarbare innerlike leegheid, hartseer en depressie.
Wat is die antwoord hierop?
Ek is self nie seker nie, maar dink tog dat die keuse van wit en swart soms moeilik is, maar langtermyn die maklikste.
Indien jy wel iemand vra vir raad of hul ongevraagd vir jou raad gee, moet jy uiters versigtig wees wie jy vertrou, wie jy deel maak van jou lewe en wie jou besluite beïnvloed.
Miskien lê die antwoord daarin om jou keuses en besluite te baseer op eerlikheid, opregtheid en integriteit.
Nie net teenoor jouself nie maar ook die wat werklik vir jou omgee en jou liefhet.