KRAG VAN ONS WOORDE
Praat en sê is maklik, iets wat ons doen sonder om altyd te dink.
ʼn Goeie vriend van my het ʼn ongelooflike afkeur in mense wat net goed sê en aannames maak sonder substansie.
Hy reken dit is ʼn tekort aan kennis en insig.
Verder is hy oortuig dat die mense niks anders van relevansie en waarde het om by te voeg nie, behalwe die klank van hul stemme.
Hoe gereeld in ʼn geselskap sal iemand se, “ja ek het geweet die kind gaan dit en dat oorkom” met verwysing na iets negatief.
Of, “ek het geweet ek gaan siek word of seerkry” en so gaan die lysie van potensiële negatiewe impakte op die eie ek voort.
Ons is geneig om dit wat ons die minste wil hê die meeste oor ons self, ons vriende en familie uit te spreek, met woorde en ons denke.
Hiermee saam die lekker ding van skinder, verlustiging in ʼn ander ou se probleme en tekortkominge, amper soos ʼn wens van regverdiging.
Miskien is dit die feit dat praat geen inspanning verg dat ons goed so maklik kwyt raak.
Hoeveel krag lê dus in ons woorde, meer as wat ons besef glo ek, en moontlik nog meer in ons denke.
Dit voel net soms vir my dat ons in ʼn absolute negatiewe menswees verval het, en dat ons oorloop van pessimisme en jaloesie.
Daarmee saam sê ek nie dat ons moet heeltyd mooi woorde spreek en in ʼn droom wêreld van verwagtinge en onrealistiese soeke leef nie.
In spreuke 18, spreek Salomo die mag en krag van ons woorde aan, gekoppel aan ons denke en waarsku dat “Dood en lewe is in die mag van die tong”
Ondeurdenkte woorde tydens emosioneel belaaide oomblikke kan lei tot groot spyt en wat gesê is, is gesê.
Soos die druk van ‘n sneller, kan dit nie terugtrek word nie.
Woorde is skerper as ʼn swaard, die letsels wat dit soms laat gaan nooit weg nie.
‘n Swaard wat sny en sielsbloeding veroorsaak wat soms onherstelbaar is vir sekere mense.
Wat ek wel glo ons moet besef is dat ons woorde n ongelooflike draer van krag en mag is, positief en negatief.
As mens iets lank genoeg vir jouself sê, glo jy dit, daai onverklaarbare manier van selfoortuiging.
Jou woorde spreek tot jou psige en jou onderbewuste raak deel van dit wat jy sê, dink en glo.
Waar laat dit ons, wees dalk bietjie meer lief vir jouself voor jy goed oor jouself uitspreek en so ook teenoor ander.