Title Image

Blog

Lekker Verjaar!

Verjaardae, is dit ʼn gelukkige herdenking van jou geboorte dag of ʼn spesiale viering van jou ouer word en aanstap deur die strate van jou bestaan?

Vir sommiges is hul verjaardag so spesiaal dat hul selfs die hoeveelheid gelukwense, van wie dit kom, wanneer hul gebel het, hoe laat en alle ander moontlike detail neerpen.

Ek weet van iemand wat net die mense wat vir haar geluk gesê het met haar laaste verjaardag sou terug antwoord met gelukwense wanneer hul volgende verjaardag aanbreek.

 

Dan is daar die mense wat nie wil verjaar nie, want hul koppel die dag net aan een ding, oudword, en baie min mense wil regtig deel met die realiteit van oudword.

Saam met oudword kom daar baie skete en pyne, die feit dat ʼn ou veronderstel is om meer wys te word en insig te toon in die lewe is tweede prys.

 

N goeie vriend van my stuur elke jaar met sy verjaardag vir sy ma ʼn kaartjie en ʼn bos blomme om haar te bedank dat sy hom, op sy spesiale dag in die lewe gebring het, hy sê dit hou hom gefokus op die werklike waarde van sy verjaardag, dankbaarheid.

 

N tydjie terug het ek gelees van ʼn persoon wat haar afsonder tydens haar geboorte dag herdenking, soos sy dit noem.

Sy beskou die dag as so geestelik van waarde dat sy dit haar dag maak.

Sy weier om haar spesiale dag met iemand te deel.

Haar redenasie is eenvoudig, dit is haar verjaardag en sy moet dit alleen ingaan en uitgaan met die nodige viering soos sy goed dink of voor kans sien.

 

Vir my is ʼn verjaardag net nog ʼn normale dag, dit is tog lekker as ʼn paar mense vir jou geluk sê, die wat dalk nie bel nie, het heel moontlik vergeet, ek glo so, want dit is wat ek gereeld doen.

 

Mens kry mos datum en tyd mense, hulle onthou elke datum, verjaardae, herdenkings en sommer ook al die ou vakansie dae en die nuwe vakansie dae.

Ek beny soms die mense, om party keer net ʼn naam van ʼn persoon tydens ʼn nuwe ontmoeting en gesprek te onthou, is reeds n hengse uitdaging.

 

Jy word aan een of twee mense voorgestel en vergeet hul naam voor jou eerste woorde in die selfde ontmoeting of gesprek, “verskoon tog, Pieter, is mos Pieter”,  nee Pietman.

N goeie antwoord is dan, “darem naby of askuus ek is swak met name”

 

Ons lewe in ʼn ongelooflike vinnige pas wêreld en alles is kits, die viering van verjaardae word met uiterse noukeurigheid beplan en gevier, dit is egter in ʼn oogwink verby en gou vergete.

Ouers spandeer ʼn magdom geld op hul kind se verjaardag, en dit is wonderlik indien dit binne die finansiële bereik van die ouers is, want kinders geniet dit om te verjaar.

Niks verskaf ʼn kind meer plesier en opgewondenheid as die afwagting op sy verjaardag en die uitsien na ʼn lekker partytjie nie.

 

Die dilemma is egter dat elke daarop volgende jaar, moet ʼn verbetering op die vorige jaar wees, en die volgende maaitjie wat verjaar se partytjie moet meer en beter wees.

 

Ek gaan nou wel nie vir my ma ʼn bos blomme stuur nie, maar soos ek nou voel dink ek tog dit is tyd dat ek my verjaardag aan haar opdra en net dankie sê.

Die feit dat ek die fokus so bietjie skuif sal my heel moontlik nuwe insig en perspektief gee oor die waarde van my verjaardag en oudword.

 

So hier is dit nou, baie dankie mamma dat mamma op die dag soveel jaar terug my in die lewe gebring het, ek is mamma ewig dankbaar, dankie vir die voorreg dat ons nog saam my dag kan vier, mag ek so bevoorreg wees om ook mamma se volgende verjaardag saam te vier.

 

Geluk aan almal wat verjaar, as iemand jou verjaardag vergeet het, sê dan sommer vir jouself geluk en geniet net die dag.

 

Lekker Verjaar!

POST A COMMENT