Title Image

Blog

Lewens Draaie – Deur die oë van ʼn mens

“Ek was ʼn treindrywer mnr., sê hy, toe gee ek op.

Ons is nie almal dom boemelaars nie, sê hy, van my straat vriende is geleerde mense, slim boemelaars.”

“Ek het al met ʼn dokter, prokureur en  ʼn predikant my boks katel gedeel”

“As ons almal niks het nie, is ons baie dieselfde, mnr.”

“Party se problem is drank en vrouens, ander is skelms, soos advisors wat mense se geld belê en dit dan steel.”

“My problem is my senuwees mnr., stres.

Toe ek nog op medical was, het die dokter gesê die swart hond het my gebyt”.

“Eendag toe het ek net besluit ek gee op, oppad na my shift toe.

Ek het alles net daar langs die pad gelos, my kar, kosblik en sleutels.

Ek het net die geld in my beursie gevat, nie eers my id nie, gevoel ek los dan myself in die kar.”

“Daar is twee options saam op-gee mnr., suicide of wegraak”

“Dit is nie maklik nie, dit is baie alleen en moeilik, jou eie vrye tronk met niks, en elke dag word niks nog minder”.

“Nou loop ek elke dag my pad met eenvoud, ek moet gesond probeer bly, iets drink, eet en slaap plek kry. Ek bid ook, het net nie Bybel nie, hulle steel Bybels op straat mnr. Ek bid net altyd vir more oggend se son”

“Dit is gevaarlik, geen alarms of panic buttons nie.”

“Soms stap ek rigtingloos sonder noord of suid.

Dan wag ek dat rigting antwoorde in my binneste soos die branders van die see teen die rotse klap, ek is ʼn see mens.”

“Die natuur se kompas, mnr., dan gaan ek maar waar die see my uitspoel”

“Die see spoel mos al die lelike goed uit en hou die mooi goed binne.

Al die lelik wat my hier gebring het, is nou uitgespoel, maar dit is ook wat almal sien.

“Niemand sien die mooi binne my nie mnr., hulle sien die mislukking van my menswees.

Hulle verwar vuil wees met siekte en voorkoms met karakter.”

“Ma ek is ok. mnr., ek was mos ook eens ʼn kerkman, ʼn ouderling.

Party dae voel dit of God my meer dra as ander dae, miskien is dit ek wat nie elke dag ewe lig of swaar voel nie.”

“Die grys van die lewe, is die ding wat sukkel om te verdwyn as die lig en donker deurmekaar raak, mnr.”

“Alles kruis in jou binneste, al is jy omring deur mense, voel jy altyd alleen en bang.”

“Soos die stilte, wat as jy lank genoeg na dit luister ʼn klank word, moet jy net aanhou soek na die kleur in jou lewe mnr.”

“Myne is soms ʼn mooi kinder servet wat ek in ʼn asblik na ʼn kinder partytjie kry.”

“Miskien eendag vind ek my lewenskleur weer en word my aanvaarding van niks weer ʼn soeke na meer.”

 

POST A COMMENT