MAAK KLAAR WAT JY BEGIN HET
“Maak Klaar wat jy begin het, of ten minste een ding op ʼn slag.”
“Dit verg deursettingsvermoë en vasbyt, niks is maklik nie.”
“Jy begin nie ʼn wedloop by die eindpunt nie.”
Net ʼn paar van die ouer geslag sê-goed.
Hier praat ek nie van verhoudings, die liefde en goed soos beroepe of jou werk nie.
Daai een enkele ding wat jy aanpak, nog altyd wou of moontlik al probeer het.
Dis normaalweg daai een ding met die bietjie twyfel vooraf wat die opgee monster in jou wakker maak.
Met vasbyt wat deel vorm van junior-leiers opleiding by die infanterie skool in Oudtshoorn het jy as instrukteur die saadjie van vrees onder jou studente gesaai.
Vrees wek twyfel, twyfel voed vrees.
As die saadjie van twyfel en vrees op die regte plek val, skiet hy wortel en op die verkeerde tyd steek hy sy eerste stukkie groen bo die grond uit.
Die groen opgee plantjie is ʼn onkruid, wat genadeloos groei en enige gasheer met tyd vernietig.
Opgee, ophou of dinge halfpad klaar maak is vir my deesdae ʼn meer algemene ding.
Dit is asof die kits wêreld waarin ons leef ʼn konsep van kits klaarmaak geskep het.
As iets net lyk na te veel moeite, inspanning of swaarkry dan is daar reeds ʼn kans dat die taak of doelwit op hande onvoltooid in sy volle glorie gaan seëvier.
Is daar werklik ʼn verskil tussen op gee of glad nie begin nie?, die resultaat is verseker dieselfde.
Dit bring my by ʼn baie besondere mens, Martelize Brink.
Martelize het die onderwerp op haar program 360 aangeraak en sy is ook die inspirasie vir die stukkie skryfwerk.
Sy het ʼn onblusbare passie vir die lewe en haar vermoë om haar luisteraars psigies in te trek en deel te maak van haar radio wêreld is magies.
As jy na haar luister en nie sou weet dat sy in ʼn rolstoel is nie, sou jy dink sy het vlerke en vlieg deur die wêreld, wat sy wel doen.
Ten spyte van ʼn rolstoel, slegte weer en die reën wat haar sig belemmer het, het sy weereens die jaarlikse 10km wedloop waaraan sy reeds die afgelope 4-5 jaar deelneem voltooi.
Natuurlik het die opgee monster haar by die 2km merk besoek, sy het egter die monster misgekyk, vasgebyt en klaar gemaak.
Die vraag wat haar blind gemaak het vir die opgee monster, “is dit werklik wie ek is?”
Miskien is die antwoord so eenvoudig, is opgee wie jy is?
Verseker is n groot deel van opgee n kop ding en so ook aanhou en klaarmaak.
Behalwe dat die vraag jou laat nadink is dit ook n kits introspeksie van jou waarde stelsel.
My gevoel is dat indien ons Martelize se benadering sou toepas in ons daaglikse lewensbesluite en keuses, dat ons meer as minder die regte besluite sal maak.
Moenie toelaat dat jou vrees vir opgee en verloor groter word as jou wil om klaar te maak of te wen nie.
NON
DESISTAS
NON
EXIERIS