MASKER MENSE
Vandag toe ek medikasie by ʼn apteek in ʼn winkel sentrum kry, was dit weer vir my ʼn skok om te besef hoe ons wêreld verander het.
Nooit sou ek in my lewe as ʼn seuntjie kon dink of glo dat ons eendag orals sal rondstap met maskers op ons gesigte nie.
Veral hier in die Boland waar ons die mooiste skoonste en suiwerste lug denkbaar het en so bevoorreg is met ons mooi berge.
Aanvanklik het ek net een masker gehad, deesdae het ʼn sommer ʼn paar.
ʼn Kar masker, huis masker, kantoor masker en een wat ek in my laptop sak ronddra.
Nodeloos om te sê dat ek nog steeds soms voor ʼn winkel stop en besef dat ek nie ʼn masker by my het nie.
Ek staan later in die ry by die toonbank en toe my roep beurt aanbreek, groet ek die dame met ʼn grappie, natuurlik beide van ons met maskers aan.
Dit is eers toe die dame my besonderhede neem dat sy antwoord, “O dis meneer.”
“Dit is moeilik meneer” sê sy, “om so met die mense te werk met die maskers op,want dit is baie onpersoonlik en mens erken nie altyd die mense nie, ek kan ook nie altyd mooi hoor wat hulle praat nie, en as jy heeltyd askuus vra word party baie ongeduldig.”
“Ek kan ook nie sien of hulle kwaad of vriendelik is nie, dit is eers as hulle begin praat dat ek nou kan sien hoe hulle voel”, sê sy.
Dit laat my vir ʼn oomblik in stilte, en toe ek wegstap sê ek vir haar, ja dit kan nie maklik wees nie, maar ek dink jy doen baie goed.
Dit bring my toe by die besef dat ons elke dag vir baie jare al in elk geval met maskers saam leef en maskers dra.
Dit is nou nie sigbaar as rooi, blou of wit met dalk ʼn mooi prentjie op nie, maar dit is ons menswees emosie-maskers, wat ons sonder keuse elke dag dra.
Party mense verwys daarna as gesig op sit, amper soos ʼn vrou wat elke oggend haar “make-up” aansit om mooi te lyk vir die dag, party vroue se dat dit hul laat beter voel.
En as hulle in die aand gaan slaap, doen hulle weer al die moeite om hul gesigte mooi skoon te maak, en gaan slaap hulle sonder hul “make-up” maskers.
My punt is dat ons vir die eerste keer werklik die dra van mekaar se maskers raaksien, want dit is fisies sigbaar, maar hoeveel keer is ons tussen mense en het ons nie die vermoë om ʼn ander persoon se hartseer, blydskap, verlange, onbewustelike soeke na hulp of enige ander emosie-masker raak te sien nie.
Die verskil is dat ons elke dag kan kies watter kleur covid-masker ons wil dra, maar met die dra van ons emosie-maskers is dit nie so eenvoudig nie.
Miskien, is een van die lesse wat ons kan leer met die dra van ons covid-maskers om mekaar se emosie-maskers beter te begin raaksien of ten minste te probeer raaksien en te verstaan.
Dalk met so bietjie meer deernis met mekaar om te gaan, bietjie meer geduldig te wees, mekaar meer te waardeer of dalk meer te luister as praat en ander toe te laat om hul emosie-maskers soms af te mag haal en nog steeds vir hulle te kan sê, “Jy lyk en is mooi en alles sal okay wees.”