Title Image

Blog

Megan- Die Engele Om Ons

Verskans beweeg daar Engele tussen ons.

Dis nie vir almal beskore om hul te sien en ervaar nie.

Met heiligheid versinnebeeld Engele God se ware liefde.

Ons meet die teenwoordigheid van Engele in verhouding met die situasies van gevaar en bedreigings wat oor ons pad kom.

Ongedeerd en sonder wonde spring ons gereeld lewens gevaarlike situasies vry en leef ons om nog ʼn dag te sien.

Dit laat ons met ʼn koue hart en die besef dat die lewe kort is, vir ʼn oomblik is ons  dankbaar en nederig.

Soms word ons lewens gespaar op onverklaarbare wyses, of ingrypend verander deur ʼn situasie, sonder logika – Die werk van ons “Beskerm Engele”

Tussen ons het God ook ander spesiale engele geplaas, unieke mensies, die verskil in mediese terme ʼn chromosoom of twee.

Ons kan hulle sien en ervaar, hulle is God se mense engele.

My suster het ʼn engel kind, Megan.

In haar onskuld en onkunde straal Megan liefde en opregtheid uit, onmeetbaar in aardse terme en bo menslike verstaan of begrip.

Sy aanvaar almal en trek hul stadig in haar hemel wêreld in.

Sommiges vir ewig ander net tydelik.

Sy oordeel nooit en groet almal, sy sê vir almal hulle is mooi en lyk mooi.

Sy sê altyd dankie en asseblief, sy sien die mens raak en nie die aardsheid van hul klere, skoene of hare nie.

As jy met haar begin gesels, sit Megan dit wat sy in haar handjies het neer en fokus onselfsugtig op jou.

Onvoorwaardelik vertrou sy en het sy lief met geen verwagting, geheg aan dit wat sy gewoond is sonder voorbehoud.

Onwrikbaar leef sy in haar hemel wêreld op aarde en skep sy ʼn onverklaarbare geestelike ervaring vir almal om haar.

Haar geestelike skeidings vermoë, laat haar toe om God en die skepping so volmaak soos God dit gemaak het te ervaar.

Sy het ʼn diep verweefde konneksie met die Drie-Eenheid, en elke keer as jy in haar ogies kyk, sien jy Jesus en Sy genade.

Sy beïnvloed elkeen wat haar pad kruis met ʼn geestelike ervaring, God se teenwoordigheid is tasbaar in haar.

As jy mooi luister, is daar ongelooflike wysheid en waarheid in haar woorde en haar stem bring rustigheid soos die Heilige Gees.

Soms vind jy antwoorde op jou vrae deur net na haar te luister.

Sonder enige vorm van valsheid of te nakoming teenoor ander, is Megan wie sy is, ʼn engel kind, deel van God se wonderskepping en genade.

Hoekom ons, vra ouers.

Dit is ʼn moeilike pad om te stap, niks kan enige ouers voorberei op die uitdagings wat op hul wag nie.

My opinie!, Hoekom Julle as ouers?,  omdat God nie ʼn engel aan enige iemand kan toevertrou nie, net aan uiters waardige ouers.

Soos die lewens uurglas die geseënde ouers se aardse tyd meet, word God se rede vir die skepping van hul Engel kind deel van hul menswees en vind hul vrede in God se besluit.

En dan op ʼn dag, vind ons die Engele om ons, en dank ons God dat ons elke dag ʼn engel by ons mag hê

Jy is ons Engel Meggie, dankie dat jy ons wêreld en menswees ʼn beter plek maak.

 

POST A COMMENT