Title Image

Blog

MEKAAR SE HARTE EN GESKENKE

Kersfees en nuwe jaar is verby, vir sommiges laat dit met ewige tydlose memories, vir ander met minder en vir ander met geen.

Baie het nuwe dinge ervaar, nuwe mense leer ken en ʼn nuwe wêreld van leef ondek.

Dit is Januarie en stap ek draai deur die winkels, daar nog steeds kersversierings en “specials” orals te sien.

Mense wat goed omruil, party nogal ongeduldig.

Moontlik ʼn kersgeskenk wat nie pas nie, dalk die kleur wat nie werk nie of miskien het die persoon reeds een of voel hy of sy dat iets anders meer van nut of waarde sal wees.

Ek besef weer opnuut die massiewe kommersiële waarde van Kersfees, en hoe maklik sommiges vasgevang en verlore raak binne dit.

Met alles wat beskikbaar is, beperkte tyd en die feit dat ons mekaar se behoeftes en harte nie noodwendig so goed ken nie, is die keuse van ʼn geskenk vir iemand soms bloot op gevoel of raai skoot.

Gaan ons nie so bietjie “overboard” of koop soms iets wat ons self graag sou hê as ʼn geskenk vir iemand anders nie?

Dan natuurlik die ding van wanneer is genoeg nou genoeg.

Ek staan twee dae voor Kersdag in ʼn winkel waar ʼn jong man ʼn ring vir sy meisie koop, natuurlik voel hy dit is nie genoeg nie en daar volg nog 4 ander geskenke in die kerspakkie wat vir haar bestem is.

Dit laat my toe dink aan die woorde van ʼn ouer Tannie so ruk gelede.

Sy sê hoe ouer mens word hoe meer waarde koppel jy aan die kleiner dinge in die lewe, die eenvoudige dinge wat geld nie kan koop nie, wat net mense vir jou bied.

Die, more en nagsê boodskap van haar kinders en klein kinders.

Die, Whatsapp met ʼn foto van herinneringe en nuwe dinge.

Die, dankie ek waardeer dit en hoe was ouma se dag?

Die, klein botteltjie handeroom en ʼn lappie…

Wat soms vir een persoon klein en onbenullig mag wees, mag vir ʼn ander persoon baie belangrik, groot en van waarde wees.

Ons raak soms eendimensioneel in ons denke as dit by hartsgoed kom.

Moontlik aanvaar ons dat as ons iemand ontmoet en leer ken dat ons nie verder hoef te ondek nie.

Soms voel dit vir my dat mense mekaar skaars ken na een of twee koffie afsprake of een dames oggend en dan glo dat hul mekaar sê harte ken nie.

Wat ek wel besef is dat die tannie moontlik reg is.

Miskien as die nuut van die “groter” dinge verby is, is dit die oud van die klein dinge wat blywend is.

Groot goed sukkel jy om in jou hart te bêre, dit vat spasie op en maak jou hart vol.

Vir klein dinge is daar baie plek in ʼn hart.

Soos wat die klein dingetjies deur jou hartskamers verwerk en verteer word, word dit deel van jou en maak dit plek vir nog.

Mag jou hart se spens oorloop met al die klein dinge in die lewe en jy dit diep bêre binne jou menswees lank na jy dit ontvang het.

 

Kopiereg: SêNet

 

 

POST A COMMENT