MENSE IS MAAR NET MENSE
Ek het die afgelope tyd, deur die optredes van mense besef dat “mense maar net mense is.”
Niemand is perfek nie en baie maklik om net te glo of te sê iemand anders is die kluts kwyt.
Dit verduidelik moontlik hoekom mense so maklik oordeel, die sleg in ander raak sien en die goeie miskyk.
Die besef dat ons net feilbare mense is, maak dit makliker om vergewens gesind te wees en empatie te toon teenoor ander.
Mense vorm soveel vooropgestelde idees en oortuigings, gebaseer op “hoor sê” of ʼn halwe oorvertelde storie.
Hulle glo goedgelowig in die waarskynlikheid van die waarheid en die leuen, dit word die bepalende faktor van wat hulle sê en hoe hulle optree teenoor ander.
Hulle raak so verstrengel in twyfel, dat hulle eenvoudig niemand meer vertrou nie, ʼn maniese vervolgings waansin word ʼn realiteit…
“Amal is teen hulle, wil hulle te-nakom of wil hul vriende wees vir eie gewin.”
Dit is dan wanneer emosie belaaide besluite geneem word en ander se standpunte nie meer van waarde geag word nie.
ʼn Obsessie om reg te wees en almal te oortuig van hul standpunt is al wat tel.
Is dit ʼn nuwe siekte van ons tyd?, aangevuur deur konstante spanning en lewensdruk.
Of is dit moontlik net ʼn refleksie van ons eie innerlike ongelukkigheid, wat soos ʼn bloedsuier gevoed word deur ʼn konstante onvergenoegde uitkyk op die lewe en die wete dat iemand anders moontlik in aardse terme beter doen.
In kontras lees ek elke dag van al die ongevraagde en onverdiende hartseer wat mense tref.
Kinders wat met kanker gediagnoseer word, ouers wat kinders in frats ongelukke verloor, tieners wat selfmoord pleeg, middeljarige mans wat hul werk verloor en opgee op die lewe, gesinsmoorde, verkragtings, depressie wat mense insluk tot in die diepste donkerste put, natuur rampe wat alles verwoes en mense laat met niks en so gaan die lys aan……
Nou vra ek myself hoekom sal mens hieroor wil skryf?, dit is donker en negatief.
Om eerlik te wees sukkel ek om myself te antwoord.
Al wat ek wel weet is dat hierdie tipe dinge my laat nadink en introspeksie doen.
Dit laat my besef hoe nietig ek is en hoe maklik ons iets kan word wat ons nie wil wees nie.
Verder verstaan ek soveel meer my gebede en God se antwoorde…en waardeer ek die eenvoudige soveel meer.