
Menswees
Die eenvoud van Menswees, soekend of gevul met innerlike vrede en liefde is kompleks, die antwoorde vasgevang in die skeppingsgeheime, wat net God ken.
Hoe meer en harder jy probeer om hierdie kompleksiteite te verstaan, hoe minder doen jy, hoe meer jy soek, hoe minder vind jy.
En dan… op ʼn dag, sonder waarskuwing of wete stap jou menswees met jou ʼn nuwe pad, onbekend en verander die soeke na liefde en vrede in jou hart na eenvoud, en verdwyn die kompleksiteit daarvan.
As jy jou spore nalaat, omkyk en besef die verlede is waar dit hoort, jy weet jy is net ʼn feilbare mens en jy kan jouself vergewe vir al jou foute en tekortkominge.
Sonder voorbehoud voel jy vry, en selfaanvaarding word deel van jou menswees.
Die mooi van die nuutheid begin tasbaar binne jou leef, – ʼn nuwe geestelike begin, diep gesetel in die kamers van jou hart en in die gange van jou siel.
Dan weet jy, dat jy werklik kan begin omgee en die eers klein onbelangrike, nou deel vorm van die belangrike.
Menswees en seer begin vir jou sin maak, en verstaan dinge binne die onverstaanbare kompleksiteit van wat dit is, en die lig van die skepping begin in jou hart skyn, en jy sien God se genade in jou medemens se oë.
As jy saam ander kan begin lag, filosofeer en soms huil, en met opregte dankbaarheid en innerlike blydskap kan leef vir ander se sukses en veel meer oor hul uitspreek.
Jy nie net seer in ander se oë sien nie, maar geluk, en klein stukkies vrede deur hulle oë, in jouself ervaar.
Soos die strale van die son die donderstorm se donker wegdryf, verdryf die lig in jou siel die donker uit jou hart.
Dan word die skoonheid van die skepping deur die vars en vernuwe reuk van die aarde na die storm in jou blootgelê.
Met eens besef ek, hoe meer ek bid, oor die baie wat ek weet, en sin probeer maak van die bietjie wat ek verstaan, dat ek as mens nooit sal weet wat in die kamers van ʼn ander se hart en die gange van hul siel aangaan nie, net soos God se geheime van die lewe na die dood.
Miskien is dit beter so, miskien is dit presies hoe ons makliker die feit dat ons almal verskil in soveel opsigte kan aanvaar.
Het God ons werklik geskep om presies te weet wat in ʼn ander persoon sê hart aangaan?
Dink hoeveel meer sal ons dan oordeel, gegewe die feit dat ons dit reeds doen sonder al die feite.
En eendag, as jy dieper kyk, fyner oplet, en meer luister as praat en sekerheid soek, dan begin jy dit vind…
Nuwe hoop onstaan en ʼn soeke na selfvernuwing word jou nuwe maatstaf, jy begin leef om die mooi raak te sien en die negatiewe te verwerk en na te laat waar dit hoort.
Vrede, geluk en liefde vind gestalte in jou menswees en die grootheid en eenvoud van God se genade, dra jou, dag na dag, na dag…
Die nag is weer nag en die dag is weer dag.
Edward
Laat my dink en selfondersoek. Jy beskryf ons menswees perfek en so waar.