
TWEESTRYD – LIGGIE LANGS DIE SKADUWEE
Ek het die week gekuier by ’n besondere mens, sy is verseker ’n engel op die mense-aarde van ons.
Haar gesels was maar min, haar woorde sag en haar staar vêr.
Haar menswees en omgee is wat haar so besonders maak.
Sy leef meer vir ander as haarself en leef haar oortuigings met passie uit.
Tans bevind sy haar halfpad in die donker gange van die mensewêreld se bekommernisse, vasgevang in die oomblik en het haar bedbid net vir ’n oomblik te hoog geword.
Want sien die donker wêreld, die negatiewe uitsprake van mense en hul verwronge idee van wat werklik belangrik is, stem haar negatief.
Die Née wêreld en Née mense het sy wortel geskied en die donker kompos van negatiwiteit voed hierdie wortels sonder gelyke.
Die doods Engel het ook sy draai kom maak.
In relatiewe kort tyd het haar pa en toe haar broer die tydelike wêreld veruil vir die ewige koningryk.
Die impak daarvan laat haar koud met emosie, hartseer en ʼn met soeke na antwoorde wat vir nou onbeantwoordbaar is.
Die tweestryd wat oorlog in ons siele voer, laat ons net op een vraag fokus, is als die moeite werd?
Die antwoord wat jy soek ontwyk jou en jy troos jouself deur te sê dat ons in elk geval net tydelik op hierdie aarde is, en genadiglik ja, dit is die waarheid.
Maar is al die hartseer, pyn en bekommernis waarmee ons elke dag moet saamleef die moeite werd?
Beslis ja, die seisoene van ons lewe stap saam ons elke dag ’n nuwe pad soos ons aards jare verbygaan.
Toe ons klein was, was die wêreld vir ons eenvoudig, ons het makliker gelag, goed makliker verwerk, vinniger gesond geword en uitgesien om elke oggend op te staan, ons wêreld was klein en volgens ons ʼn beter plek.
Miskien omdat ons geglo het ons het baie tyd, want net ou mense gaan dood en oudword was ver in die toekoms.
Nou is ons ouer.
Ons ouers en broers en suster word oud, sterf en los ons harte vol klein onsigbare gaatjies, soos ʼn ou emmer wat in die son en weer staan en verniel.
Elke dag moet jy klein bietjie water in jou hartsemmer gooi anders word jou emmer leeg.
Voor jy besef is jou emmer droog, die onsigbare gaaitjies word barsies en later lelike krake wat net meer en meer verniel as ons dit nie reg maak of vervang nie.
Toe ek baie klein was, het my pa eens vir my gesê dat ’n ou oom vir hom gesê hê dat God nou in sy woud begin kap, jare later toe sê my pa dit weer vir my, met die woorde “God kap nou in my woud seun”.
Die feit van die saak en realiteit is dat God in ons almal se woud gaan kap, of jy nou ʼn jong boom of ʼn ou boom is.
In die natuur hou elke boom elke dag net aan met groei, want dit is wat ʼn boom moet doen, en al dink en glo ons dat die boom se doel is om ons van hout en skaduwee te voorsien, het God die boom eintlik geskape om as die longe van ons mense aarde te dien.
Die boom kan net op die natuur staat maak vir dit wat hy nodig het om te groei en te leef.
Maar ons as mense het mos nou ʼn brein, wat ʼn boom nie het nie, met die besef dat ons so verganklik, weerbaar en net mens is, maak ons op onsself staat.
Wanneer teëspoed ons tref en die hartseer van die lewe, raak ons so verdiep in die wêreld se seer dat ons vergeet van ons eie geluk, ons reg om te leef en te moet leef, en om God se koningryk uit te bou deur ons menswees.
Ons laat toe dat die wêreld en die kaarte wat ons gedeel word ons lewensvreugde steel en ons emosionele welstand definieer.
Ons vergeet van God se liefde vir ons en die krag wat Sy vaderskap ons bied in terme van ons psigiese welstand.
Maar hoe verwerk mens dan nou al die onverstaanbare goed en waar vind mens antwoorde?
Ek weet nie regtig nie, en het verseker nie die antwoorde soos die geleerde mense nie.
Wat ek wel weet, is vandat ek nie meer die nuus pligsgetrou kyk of luister nie, die koerant nie pligsgetrou lees, minder na negatiewe mense luister en begin besef het dat die dood deel is van ons lewens sirkel.
Dat ons geliefdes wat ons afgestaan het aan die dood op ʼn beter plek is en wil hê dat ons moet aanhou leef en elke dag ten minste streef om gelukkig te wees, het ek meer vrede, gerustheid en aanvaarding gevind.
Ek streef om my bidbed korter en gemaklik te maak en poog om my hartsemmer se krakies en gaatjies reg te maak op ʼn daaglikse basis, as dit nie werk nie skaf ek net eenvoudig ʼn nuwe emmer aan.
En as jy mooi kyk, tussen deur dit alles, skyn daar weer ’n liggie, die mooi daarvan is dat die liggie nooit weg was nie, jy het net met jou oë op die skadu langs die liggie gefokus en so gewoond geraak om die liggie mis te kyk.
Te midde hiervan, glo ek tog dat alles eintlik nog altyd dieselfde was, die goeie en die slegte is van die begin van tyd daar en sal wees tot ons einde.
Dit is ʼn besluit wat elkeen van ons elke dag moet neem om jou eie lewensvreugde rugsak op te neem, vol te pak met dit wat vir jou kosbaar, mooi en belangrik is.
Pak jou rugsakkie elke dag reg en haal dit wat jou negatief stem uit, jy gaan ligter dra en makliker regop stap.
Soos seisoene sonder ophou, jaar na jaar sy gang gaan en verwissel en die nuutheid van die natuur laat herleef, is dit die insig en jou wêreldbeskouing wat jou meer waarde laat heg aan wat werklik belangrik is.
Dit wat in die verlede is, is verby, tyd kan nie terug gedraai word nie, dit is hoekom ons dit die verlede noem.
Ek se nie jy moet jou verlede vergeet nie, maar dit help my om op die mooi herinneringe van die verlede te fokus, ek kan in elk geval niks aan die slegte herinneringe doen nie, maar ek kan kies om dit te vergeet en nie daarop te fokus nie, dit stem my positief en maak my aardsdoel soveel meer uitvoerbaar.
Mag ons almal êrens ʼn innerlike keerpunt toelaat om ons menswees te vul en te laat besef dat ons, onsself meer moet waardeer, lief hê en strewe na geluk, want ons is nie in beheer van tyd nie.
As jy dit doen, dan, sonder om nou te verstaan, verstaan jy moontlik eendag op die regte tyd.
Hannetjie
Buurman, woorde ontbreek….. Diep, baie diep… Mag ons, ons lewens emmertjies daagliks volmaak met dít wat regtig saakmaak.