
Tyd is net sekondes
Tyd, die bepalende faktor van alles wat ons beplan in die lewe.
Meeste mense met wie ek praat is dit eens dat daar net nie meer genoeg ure in ʼn dag is nie.
Tyd staan nie stil nie en tyd wag vir niemand nie, al beplan ons hoe goed is daar altyd een of ander “curve ball” wat die appel kar omgooi.
My konsep van tyd neem my terug na die koekoek horlosie in my ouer huis, opgewonde het ek gereeld as klein seuntjie die horlosie gesit en dophou, net om die voëltjie klokslag op elke nuwe uur sy verskyning uit sy horlosie nessie te sien maak.
Ek het vir baie lank geglo dat die gesegde “tyd vlieg” iets met die voëltjie in die koekoek horlosie te doen het, as ek nou terug kyk dink ek nie meer my teorie was so vêr gesog nie.
Want net soos die swaeltjies oor die waters winter na somer vlieg en niks hul terughou nie, hou niks tyd terug nie.
Saam ouer word raak mens meer nostalgies.
Ons kyk met verlange terug na ons grootword kinderjare en die mooi herinneringe van die verlede, die sorgloosheid van ʼn ouer huis, met min verantwoordelikhede en baie tyd om te doen wat lekker is.
Tyd het maar net tyd gebly, ons lewens tempo het net vinniger geword, die tempo en dit wat verby is skep ʼn leemte in ons, ons probeer dit vul met nostalgie en herinneringe.
Ons word nie wakker in die oggende nie, ons skrik wakker en voor ons behoorlik uit die bed is, is ons gedagtes al by wat 10:00 die oggend moet gebeur.
Toe ek klein was, het dit vir my gevoel ons leef in pas met tyd, ons het in die nou geleef en gedink, vandag leef ons om by te bly en dink in die toekoms.
Om my sien ek elke dag hoe mense, gesinne en vriende verby en verder weg van mekaar leef.
Elkeen is besig met sy eie ding binne die beperkte tyd tot sy beskikking.
Die vinnige pas van die lewe saam met elke dag se druk en verantwoordelikhede en ʼn “survival” uitkyk maak mense angs bevange en gespanne.
Party keer moet ons dalk net vir ʼn oomblik stil en rustig raak, uit ons besige wêreld ontsnap en tyd maak vir die mooi en sielsgoed wat ons beter laat voel.
Al is dit net iets eenvoudig soos om vir ʼn paar minute in die son te sit, te stap, te lees of die mees belangrikste, meer tyd te maak vir mekaar of moontlik net stil raak.
Ons dae is soos ʼn 100m resies, die sukses van die resies lê in ʼn goeie wegspring en ʼn sterk einde, en almal wil elke dag wen.
My beste dae is die dae wat ek vroeg oggend eerste ding tyd met die Gewer en Skepper van my tyd spandeer, my Hemelse Vader, dit bring nuwe perspektief en kalmte en laat my opnuut besef dat elke sekonde wat ek gespaar word net genade is.
Waar laat dit ons, ek weet nie, wil ek elke dag ʼn 100m meter resies leef of wil ek dalk die lewe as een lang wedloop aanpak?
Hoe dit ook al sy, een ding is seker, daar is ʼn begin en beslis ʼn einde aan alles.