TYD – NOSTALGIE OF HUNKERING
Ek stap in by die ontvangs van ʼn maatskappy , sewe besondere groot muurhorlosies, netjies gehang teen ʼn muur met muurpapier van prentjies met pendulums en uurglase as fokus punt, rowwe detail, vang my oog.
Dit vorm pragtig deel van die gesofistikeerdheid van die kantoor en sy mense.
As ek ʼn horlosie sien, is daar mos net een ding wat natuurlik eerste in my kop opkom, en dit is tyd, my tyd, ons tyd.
Dit is tog maar wat die skeppingsdoel van ʼn horlosie is.
Maar hier, teen die muur, met sy sewe horlosies besef ek opnuut dat tyd vir soveel van ons verskillende betekenisse en waarde het.
Elkeen van die horlosies verteenwoordig ʼn tyd in ʼn sekere stad op ʼn verskillende kontinent.
Wêrelde van mekaar verbind deur slegs die skepping.
Ek besef met eens binne die konteks hiervan dat tyd vir elkeen van ons uniek is.
In elkeen van hierdie kontinente is daar iemand wat moontlik op dieselfde moment, net op ʼn ander tyd moontlik aan dieselfde ding dink of wonder.
Vir elkeen is die nou, die tyd waarin hy hom bevind die bepalende faktor van wat volgende moet gebeur.
Ons beplan mos alles volgens tyd, en daarom dan mos nou ook die jare lange gesegde; “elke ding op sy tyd”.
Maar dan is dit nou ook mos so dat ons geen beheer oor tyd het nie, die horlosie hou nooit op met tik en al wens ons soms ons kan tyd vir ʼn klein moment stop of dalk terug draai, is dit ʼn saak van onmoontlikheid.
Soos wat mens deur die jare aanbeweeg en die verskillende seisoene van ons lewe soos elke lente se nuwe bloeisels tot stand kom, is dit dan ook so dat die waarde van tyd saam die seisoene verander.
Toe ons klein was, het ons gedroom van die toekoms, die goeie tye wat voorlê wat saam oudword kom.
Gesels jy met veel ouers mense is dit presies dieselfde konteks wat hul met groot nostalgie laat terugkyk na hul verlede, en is die droom om net weer die goeie ou tye te beleef ook vasgevang in dieselfde onveraderlike konsep van tyd.
Vir my het tyd net tyd geword, ek koppel nie meer datums en dae aan tyd nie, ek probeer net in die uur van nou leef want nie eers die volgende sekonde op my horlosie is noodwendig vir my beskore nie.
Die moeilike deel van die nostalgiese terugblik op die goeie ou dae, is nie net al die stories wat onverteld agtergebly het nie, maar die onvermydelike hunkering na die mooi herinneringe wat ons agter laat sonder keuse.
Soms bevind mens jouself in absolute ongeloof dat dit wat verby is, is verby, veral as jy daai ou familie foto’s deurblaai en sien hoe vinning jou herinneringe in tydswaarde gegroei het.
Dit bring my dan by die hele kruks van die saak.
Die lewe is kort en tyd vir mors en sukkel is daar nie, tyd wag vir niemand nie.
Aanbeweeg is ook iets wat nie van self kom nie, seker omdat ons mense nie hou van verandering nie, die Engelse sê “ Humans are creatures of habbit” ons klou vas aan ons gewoontes, goed en sleg, ons gewoontes is aan tyd gekoppel en ons het altyd baie redes hoekom dit moeilik is op aan te pas en aan te beweeg met die nuwe.
Dit voel soms vir my dat dit juis die nostalgie van die verlede en die hunkering na dit wat voorlê is, wat ons vasgebind hou deur die kettings van tyd.
Dit is maar die klein dinge in die lewe wat eintlik ten spyte van die groot gebeurtenisse vir ons die lewe soms nuwe betekenis gee, en so die boeie van tyd wat ons vashou, breek en ons vry maak.
Miskien moet ons nie dat tyd ons lei nie, miskien moet ons die sewe kontinente binne ons menswees, elkeen op hul eie tyd laat voort tik en net meer doen en minder wag.
Minder wag vir die regte tyd, minder terug hou omdat ons dalk glo dit is die verkeerde tyd.
Sal dit dalk makliker wees as ons net vir onsself sê dat tyd net eenvoudig die gebeure in ons lewe in momente omskep binne ons herinneringe en nie ons toekoms hunkeringe nie?
Dat tyd onbepaald sal voortduur met of sonder ons en dat dit tyd geword het om tyd te maak om soms net aan te beweeg met die nuwe, maar ook soms vir kort momente die verlede te waardeer vir dit wat dit was.
Miskien is dit hoekom ʼn horlosie vir ons tyd bepaal en dat ons sonder ʼn horlosie net sal moet raai en wonder hoe laat dit is.