Title Image

Blog

VADERSDAG

As ek terug dink en my gedagtes laat gaan….

Spoel die branders van herinneringe uit, oor die see se vlakste kant.

Gebreekte skulpklippies deur die wit sout water uit die see gewerp.. vir ewig op die droë strand

Die terugdink aan moedersdag laat my met ʼn gevoel van sagtheid, die gee van iets moois en vroulik vir die ma in jou lewe, blomme, sjokolade en selfs net ʼn drukkie maak dit volmaak.

 

Vadersdag is nog altyd moontlik minder emosioneel van waarde, ʼn paar sakdoeke, sokkies en lekker ruik ding.

ʼn Pa is mos sy seun se eerste held en sy dogter se eerste liefde.

ʼn Rots om op te steun as jy dit nodig het, ʼn woord van wysheid as jy dom voel, ʼn sterk arm wat jou dra as jy klein en moeg is, ʼn skuld teen die gevare wat jou mag seermaak en ʼn besluitnemer as jy twyfel.

 

Dan eendag word jy self ʼn pa, die lewe gaan sy gang en tyd vlieg onverskrokke verby, onbepaald, onbekend en sonder keuse dink God dit goed om sy krygers in sy koningryk aan te vul en jy neem afskeid van jou pa.

Dit laat jou met geen ander keuse as om te moet deel met die koue realiteit van die dood se finaliteit.

 

Met stilswye en sonder verstaan verander die waarde van Vadersdag vir ewig, geskenke raak van geen waarde en word vervang met mooi en onskatbare herinneringe en die emosionele waarde van Vadersdag kom tot sy reg.

 

Die soeke en hunkering na nog net een antwoord op  ʼn boodskap,  ʼn nag sê, nog een keer se saam ry en gesels of net sy reuk, raak ʼn onvervulbare verlange.

Vir die vervulling hiervan, sou ons al die rykdom van die wêreld en die stukkie van ons siel wat saam ons pa weg is prys gee.

Binne dit, kom die wete en besef dat alles kom tot niks, ons aardstyd is net geleende tyd en elke dag van more ʼn seëning binne die genade en vrede van God se geestes skepping.

 

Berusting en vrede is nie aards nie, dit kom saam aanvaarding en tyd, ʼn Geestes seën wat oor ons spoel soos dieselfde wit sout water wat die gebreekte skulpies van ons siel uit ons hart se diepste seer moet spoel.

Soms ervaar jy die verskillende getye van die lewens see wat met reëlmaat op dae soos vandag in jou woed, soos springgety, bepalend deur die swaarte krag van elke stukkie son en maan in jou menswees.

 

Wat oorbly is om God te dank vir ʼn geleende aardse pa, die spore en merke van sy menswees diep gelaat in jou hart.

Soos die lewens water se vloei, is dit die dankbaarheid vir dit wat was, wat diep in ons menswees, soos ʼn genesende wond moet bloei.

En as die onthou van die mooi en die onvergeetlike, jou hart se seer en soeke na meer, jou laat voel of jy kla, weet maar net, God wil hê ons moet vra.

 

Met die oggend se breek, die dou op die gras, is daar nuwe betekenis aan Vadersdag.

Hartseer blywend, troos en berusting sal kom met tyd, soos opregte liefde, sonder verwyt.

Gelukkige Vadersdag pappa.

POST A COMMENT