VALSE MENSE
Dit is angswekkend om te sien en ervaar hoe min mense daar is wat jy werklik kan vertrou.
Wie se woord hul eer is en dit nog vir hul saak maak of ander in hul glo en vertrou.
My opinie volg na ʼn paar gesprekke met mense die week wat deurgeloop het onder valse mense en die impak daarvan op hul lewens.
Hier verwys ek na vriende, familie, werk kollegas, werkgewers feitlik almal.
Mense het eenvoudig nie meer integriteit of lojaliteit nie, iemand het eendag vir my gesê, integriteit is om die regte ding te doen as niemand kyk nie.
Die mensdom voel my het verander in ʼn saam stem generasie, elke ou dink hy het al die antwoorde en wysheid, stem jy nie saam nie, of durf jy jou opinie stel, dan is dit so goed soos om voor die vuurpeleton te gaan staan.
Daarmee saam het dit al hoe moeiliker geword om net iets soos ʼn eerlike objektiewe mening te deel sonder om ʼn bekgeveg op te eindig of, “jy het my nou te nagekom” aanmerking te ontvang.
Gesprekke oor eenvoudige goed van die lewe, het verdwyn en as ek soms so sit en luister na mense, is skinder, sleg praat en ongegronde aannames van ander die algemene gesprekspunt.
Iemand het eendag gesê om heeltyd oor ander te skinder en valshede te versprei is eintlik maar net ʼn refleksie van die persoon se binneste, sy gebrek aan ʼn goeie selfbeeld en genoegdoening.
So persoon voel moontlik minderwaardig en sukkel met selfaanvaarding, en is eintlik maar kwaad vir homself.
Maklik om dan maar op die mense rondom jou te projekteer, net jammer dat ongegronde aannames en vooropgestelde idees wat jy moontlik mag hê van iemand of ʼn situasie groot skade veroorsaak.
Die konsep van dink voor jy praat, toets jou feite en neem die gevolge van jou uitsprake in ag is seker deel van die antwoord.
Waar los die gesprek ons, vir my met min antwoorde, al wat ek kan en beslis meer sal doen is om maar net weer die wag voor my mond sy werk te laat doen.
Laat weet wat jy dink, want opinie maak saak!