Title Image

Blog

VUIL WASGOED

Dit is verbasend hoeveel mense hul vuil wasgoed in die openbaar was.

Kyk maar na die onlangse huisgenoot voorblad, die internasionale hofsaak van die wêreld bekende seerower, die koninklike rooikop en so gaan die lysie aan.

Met vuil seepwater en vlek merke word daar skaamteloos in ʼn wêreld van verlustiging wasgoed gewas en opgehang.

Myne, joune, ons en hulle.

Niemand bly gespaar as jy potensieel met die verkeerde persoon swaarde kruis nie.

As afguns, jaloesie of ʼn wrok die dryfveer is en emosie en woede vlak lê, is daar geen grense aan selfrespek en omgee nie.

Die bekendes was hul wasgoed in die media en ons normale mense sommer tussen vriende en familie.

In die hitte van die stryd word geen besonderhede uitgelaat nie en vlieg regdenkendheid by die venster uit.

Die impak hiervan kom eers tot oorweging as die skade reeds gedoen en omkeerbaar is.

Vir baie is dit net ʼn magspel of ʼn doelbewuste poging om die ander party te na te kom en te diskrediteer.

Vir ander ʼn saak van self gewin.

Sou wegstap of die ander wang draai die antwoord wees?

Is dit nie beter om jou eie vlekke te verwyder en jou vuil wasgoed in ʼn sak te sit en weg te gooi nie?

Ons raak so verdiep in wraak en tenakoming dat ons dikwels self die grooste verloorder van ons eie oorlog en strewe na oorwinning is.

Miskien is die antwoord om maar te sorg dat jy jou wasgoed skoon hou…

POST A COMMENT