
WAARHEEN IS ONS OPPAD?
Waarheen is ons oppad…… wie sal weet?
As ek die wêreld ʼn beter plek kon maak deur vir almal wat te-nagekom of seergemaak voel te kon jammer sê
of dalk dankie vir die mense wat ʼn dankie verwag of sommer net asseblief vir die wat dit nie doen, sou ek.
Vandag het ek weer besef met hoeveel opgehoopte hartseer, woede, frustrasie en ondankbaarheid die wêreld van oorloop.
Die vlak van ongeduld en frustrasie is sigbaar op mense se gesigte en as jy mooi genoeg kyk, is dit asof jy hul probleme kan raaksien.
As ek sien hoe mense in sekere situasies optree, kan ek nie anders as om te wonder wat mense dryf tot die besluite wat hul maak en hoe hul optree nie.
Op die pad en in enige ry waar mense moet wag vir diens raak daar altyd een of twee die klits kwyt.
Daarby probeer elkeen hard om sy of haar optrede te regverdig.
Elkeen is so op hom of haarself gefokus dat dit hul heeltemal absorbeer, dit is asof hul nie meer ander se behoeftes en gevoelens raak sien of in ag neem nie.
Het die wêreld so ʼn slegte plek geword, of is dit ons wat onsself so ongelukkig maak?
Het ons te aards geraak en konstant ongeduldig geword omdat die lewe nie kitsoplossings bied tot al ons bekommernisse en probleme nie.
Kits rykdom, kits liefde, kits geleerheid, kits geluk…… En so gaan die lys aan.
Behalwe vir kitskos glo ek nie dat die wêreld ons enige ander kitsoplossings bied nie, miskien moet ons net partykeer met nuwe insig en ʼn breër visie na die wêreld om ons kyk.
Miskien moet ons nie toelaat dat die kits wêreld ons insluk of absorbeer nie.
Miskien moet ons net soms bietjie meer introspeksie doen, meer realisties in ons verwagtinge wees en minder gefokus op ander se tekortkominge en foute fokus.
Miskien meer leef vir ons skepper en Sy doel op aarde vir ons begin uitleef, met meer empatie teenoor mekaar optree en met meer dankbaarheid leef vir dit wat ons wel elke dag, “kits” van God af ontvang.