Title Image

Blog

WAT MOET EK DOEN?

Die vraag wat deesdae gereeld tussen vriende, by ʼn braai, op radio programme, op sosiale media ens gevra word, “Wat moet ek doen?”

Dit is asof mense se besluitnemings vermoë hul in die steek gelaat het.

Almal soek antwoorde, op soveel vrae.

Vrae oor alle aspekte van ons menswees, ons verhoudings, die grootmaak van ons kinders, keuse van ʼn vakansie plek, huiskoop, kar koop…… en so gaan die lys aan.

Ons is so ingestel op die raad van ander mense, soos die van ʼn vriend, die buurman, die dominee en sommer party keer ʼn “vreemdeling” wat ons pas ontmoet het, dat ons tussen die gesoek na antwoorde ons eie fokus van wat ons self graag wil hê, soek en wat ons gelukkig sal maak verloor.

Dit is so asof ons net eenvoudig die aanvaarding of ʼn “okay” van iemand moet kry om ons te help om ʼn besluit te neem.

En moenie dink dat as ons wel by ʼn keuse uitgekom het, dat dit die einde van die soeke is nie, nee wat, net een volgende stukkie ongevraagde raad en jy is “back to square one”

Miskien is die vrees om ʼn besluit te maak deel van ons nuwe wêreld, ʼn wêreld vol keuses.

Stap jy in ʼn winkel in en wil ʼn eenvoudige ding koop, is daar ʼn magdom van  dieselfde goed op die rakke om van te kies, ons opsies is legio.

Natuurlik is die feit dat ons besluitloos rondwandel, ook die oorsaak dat ons sekere goed eenvoudig uitstel en later afstel.

Neem net die grootste huidige debat onderwerp, die Covid entstof as ʼn voorbeeld. Dit is so kontroversieel dat daar selfs tweespalk tussen gesinslede en vriende ontstaan.

Selfs van die mense wat dit geneem het twyfel weer van voor af elke keer as hulle met ʼn anti-enstof “kenner” praat of ʼn artikel raaklees.

Gerugte en oortuigings dat die entstof ʼn beheer maatreël deur die “universe” en die Illuminati is om ons te programmeer en te beheer help ook nie veel nie.

Luister jy na die duisende opinies vir en teen die entstof is dit ʼn gegewe dat enige persoon wat aan ʼn mate van besluitloosheid lui, met ʼn groot probleem sit.

Ek het myne geneem, dit was nie werklik eers ʼn besluit of keuse nie, net eenvoudig vir my iets wat ek dink die logiese ding is om te doen.

Glo dit of nie, ek het nou al met vele ouer mense gesels, hulle se dat daar toentertyd ook maar individue was wat geglo het in al die “conspiracy theories” toe daar elke nou en dan ʼn nuwe entstof die lig gesien het.

Dink maar aan die aanbreek van die jaar 2000, toe ons elektroniese wêreld tot ʼn stilstand sou kom, ons almal het nuwe rekenaars gekoop of ons ou modelle laat opgradeer, want dit moes “Y2K Compliant” wees.

Dink net vir ʼn oomblik as daar sosiale media tydens die groot trek of met die groot griep van 1918, die 1914 rebellie of die goud-storm loop in 1886 was, waar sou ons vandag gewees het?

Dank vader daar was toe nie Facebook, Instagram ens nie, elke ding op sy tyd.

Die feit dat ons so ʼn besluitlose mensdom geword het, maak ons, my insiens meer weerbaar om in allerhande teorieë oor soveel aspekte van ons menswees en bestaan te twyfel.

Dit veroorsaak dat ons alles oordink, in wantroue leef en sommiges selfs aan ʼn vorm van vervolgingswaansin lei, so mors ons kosbare tyd en energie net om ʼn besluit te neem.

Ek het nie antwoorde nie, maar ʼn slim ou het eendag vir my gesê “always follow your gut or go with your first thought.”

Seker makliker gesê as gedaan, maar besluit moet jy besluit…. Sterkte.

POST A COMMENT