Title Image

Blog

Wees n Reisiger

Die verskillende wêrelde waarin ons leef, vir meeste mense eendimensioneel, uniek en beperk tot dit wat hul ken en gewoond aan is.

juis omdat hul vaskleef aan hierdie eie stukkie van hul leef wêreld.

Vasgevang in die hede en soms teruggehou deur hul verlede, met ʼn vrees vir die toekoms en die onbekende.

As ek op sosiale media kyk, kom dit voor of die wêreld reisigers daagliks toeneem.

Foto’s van gesinslede en vriende gedeel in elke moontlike droom bestemming; op die ski-hange van die Whistler Mountain in Kanada, ʼn tropiese eiland wegbreek in Bora-Bora, Tahiti of die strate van “The big Apple” New York.

Sosiale media het ons deel-wêreld bitter klein gemaak en reis tyd vir daai selfie of soms net ‘n “brag” foto is oombliklik.

Geen mens se reisgeheime het meer ʼn bestaansreg as ‘n geheim, as dit by sosiale media kom nie.

Natuurlik het die realiteit van Covid-19 soveel reisigers se reise die nek in geslaan.

Maar as jy sleg voel omdat jy nog nie die wêreld gesien het nie, kan jy jou aan die volgende troos.

In verhouding met die magdom wêreld bevolking is dit maar ’n druppel in ’n emmer bevoorregtes wat hulself ooit in  ʼn leeftyd in een of ander kontinent bevind en na hulself kan verwys as wêreld reisigers.

Die reisiger waarna ek egter verwys as ek se “Wees ʼn Reisiger”, is nie die voorafgaande “Jet-setter” nie, nie die ou wat sy wêreld bestemming op sosiale media deel nie, maar die droom reisiger.

Die persoon wat die reise van sy menswees, drome en onvervulde lewens passies nooit vleuels gee nie.

Die punt wat ek probeer maak is dat ons as mense so vasgevang word waarin ons gewoond en gemaklik is, dat ons ’n inherente vrees vir vernuwing, verandering of die uitleef van ons drome en lewens passies het.

Ons stagneer so maklik en bied ter verdediging al die denkbare verskonings in die wêreld aan om ons stagnasie te regverdig.

Dit syfer deur na feitlik alle fasette van ons lewe, ons leef nooit ons menswees uit nie, is bang dat die wêreld werklik moet weet wat ons passies en drome is en die aanvaarding van ons gewoonte wêreld definieer ons.

As ek met soveel mense gesels kom ek agter dat dit moontlik een van twee dinge is wat ons as mense so terughoudend maak, selfvertroue en die denke dat dit wat hul wel nog wil doen hul later sal doen, dat tyd onbepaald tot ons beskikking is, daarmee saam die finansies faktor vir sommiges.

Ek weet van ’n tannie wat in haar sewentigs besluit het om sang lesse te begin neem.

Sy het die droom haar lewe lank gekoester maar nooit tot vervulling gebring nie, sy het wel nou net vyf liedjies opgeneem en nooit dit kommersieel bemark nie, maar sy het haar droom in ’n realiteit omskep, en nuwe betekenis in haar lewe aan die lied, “Sonvanger” gegee.

Daarna het sy skilderklasse gaan neem en ook toe ’n skildery die lig laat sien, sy hang dit trots in haar huis en daagliks word haar skildery die sonvanger van haar drome. Die skildery is ook die tema foto.

Ek dink die verskil is dat sy twee dinge besef het, dat tyd net elke dag ʼn nuwe stukkie bestaan genade is wat haar gegun word om haar drome te verwesenlik, tweedens het haar lewens vrese, wat mense byvoorbeeld dink en se, nie meer ʼn impak op haar nie.

Vir sommiges mag dit selfsugtig klink of voorkom, maar ek dink die tannie was braaf genoeg om so klein bietjie haar geluk eerste te stel.

Daarmee saam glo ek dat ons elkeen soveel meer het om te offer in die lewe, nie net vir onsself nie, maar ook vir die wêreld en die mense om ons, as wat ons besef.

Hoeveel van ons staan elke oggend op en kan met vrymoedigheid en opregtheid sê dat hul, vandag hul droom leef?

Deur onsself die vryheid van ʼn droom reisiger te ontneem as gevolg van ons vrese en verskonings, ontneem ons nie net onsself van soveel persoonlike vervulling nie, maar andere ook.

Miskien is dit net nodig om te besef dat jy geregtig is om jou drome en menswees uit te leef sonder voorbehoud en sonder die goedkeuring en of aanvaarding van ander, met in ag neming van dit wat jou werklik gelukkig sal maak en die besef dat tyd nie onbepaald aan jou kant is nie.

So as daar iets is wat jy koester, oor droom en dit deel is van jou “Bucket list” moenie wag totdat jy soos die ou Afrikaanse spreekwoord jou lepel in die dak vir die laaste keer steek nie.

 

Maak ʼn plan, maak ʼn begin en maak dit klaar!

POST A COMMENT