Title Image

Blog

Xanateni

As die son die donker breek en die bosveld sy inwoners wakker maak, die son se oggend strale die blinkblaar sy naam gestand doen, die wind stil-stil die stem van die dooies se liefde vir die natuur besing, en elke lewende wese uit sy nagslaap ontwaak om deel te vorm van die draende frekwensie  van die taal van die wind.

 

Die dag tot stand kom, en die nag die dag vervang op ʼn vreemde kontinent, onbekend vêr, wat wag om sy nagrus te ontvang.

Dan besef jy dat die stilte van die natuur en die eenvoud daarvan net soos die besliste reëls wat ewewig en harmonie in die natuur handhaaf, deel vorm van wie jy is.

As jy jou teen hierdie reëls verset of jou eie probeer stel, dan raak jou lewe kompleks en word vrede vervang met angs en afwagting op die hoop dat daar uitkoms sal wees, gegewe deur die bo-natuurlike.

Met jou denke leeg en die invloed daarvan wat jy beleef, jy jou menswees probeer vul en jy die aarde en die skepping as onbeskryfbaar beskou, want die oomblik waarin jy jou bevind is uniek en nuut, in die natuur.

Die krombek neushoringvoël sy lied vanuit ʼn koorsboom met jou deel, jy nuwe respek en aansien begin kry vir die houtkapper wat nes maak in die holte van ʼn doringboom en sy kroos sonder gelyke versorg en beskerm.

Ouerskap en omgee sonder vermelding, natuurlik en gedryf deur instink, en dit wat in die oomblik gebeur, so perfek soos wat God dit sou wou hê.

As die mooiheid van die Mopanie boom en die waarde van sy blare, die naam draer van jou nuut gevinde sielstuiste word, “Xanateni” en jy die natuur se onverstaanbaarheid begryp en veilig toesluit in jou geesteskluis.

Waar elke minuut van die dag saam die beweging van die son, maan en sterre aanpas en verander en nuwe momente skep waarmee jy kan verbind.

As jy mooi luister en jouself toelaat om een te word met die natuur, dan is daar ʼn onverklaarbare aardse rustigheid en vrede wat binne jou manifesteer en vou God se skeppings wonder jou toe met die klanke en mooiheid van die bosveld.

Die geheim binne dit alles is om dit wat jy beleef te verstaan, waardeer  en nie te oordink nie, en raak die lewensles deel van die toekoms en beaam die geluid van die stilte, net dit…stilte

POST A COMMENT