Alleenheid
Voel dit vir jou soms dat jy stap of sit op die treinspoor van alleenheid?
Alleenwees is nie maklik nie, alleenwees is ʼn aaklige emosie monster wat in jou kop vashaak en sy rusplek in jou hart en siel vind.
Dit laat jou ongeliefd, onbelangrik en eensaam voel.
Dit dreineer jou liefhê en omgee totdat jou gees soos jou skaduwee om jou rond dans soekend na die son sonder ritme.
Tussen vriende, familie of ʼn skare van vyf duisend voel en is jy alleen.
Die alleenheid monster teiken verhoudings, vriendskappe, huwelike en selfs die wêreld van die enkellopende en natuurlik ons bejaardes.
Dit beroof en ontneem jou van al die mooi, jou uitkyk op die lewe en die wêreld raak eendimensioneel en jy begin alleenheid in alles raaksien en ervaar.
Ongewaardeerd en soekend oorkompenseer jy totdat jy nie meer balans kan vind nie.
Alleenheid verander van ʼn emosie na ʼn statiese bestemming wat jou voete vasgom op ʼn koue vloer.
Iemand vertel vir my dat die laaste 10 jaar in haar huwelik die alleenste tyd in haar lewe was.
Jy het ʼn asem by jou, langs jou, ʼn doofstom asem wat nie waardeer, antwoord of soms eers asem haal nie.
Met ʼn dowwe hartklop kwyn jou lus vir die lewe en leef jy ter wille van oorlewing.
Oorlewing is soos ʼn wind wat die blare van alleenheid in jou siel rondwaai en stadig die blare se groen laat wegkwyn totdat jy na herfs met ʼn koue winter in jou hart sit.
Op ʼn dag, vind jy egter die nuwe saailinge van omgee en ʼn vriendskap wat lowergroen binne jou begin ontkiem, wortelskiet en groei.
ʼn Jong takkie van vriendskap, omgee en daar wees wat aanhou groei en ʼn storm sterk boom van vervulling word.
Miskien moet ons soms net besef dat die monster van alleenheid elkeen van ons se paaie ook kan en moontlik eendag sal kruis.
Probeer die wie sê alleenheid jy raaksien te vul, en moontlik sien joune eendag raak.
Mag jy wat soms alleen voel jouself so liefhê dat wanneer jy alleen is dit genoeg is vir jou.