Title Image

Blog

AS DIT REËN IN DIE KAROO

Jirre, lank het ons gewag vir ʼn druppel-groet van U.

Die hemele het heeltyd teruggehou en U se seën het sy eie tyd.

U tyd is so perfek soos die lyne van elke sonstraal se groet in die na-middag.

Hier het die son ʼn manier om die seer van die droë karoo vir ʼn oomblik weg te steek vir die wat kyk en sy seer ken, soos hy sak groet hy sy mense met hoop.

Selfs die skape en donkies was al moeg gebid en net voor ophou glo, toe laat val U die druppels Jirre.

As die eerste druppels plek-plek op die sinkdak val en later ritmies deur jou oor in jou hart kom lê, klink dit soos ʼn heilige Engele lied wat die koms van die water verwelkom.

Die selfde koor sing sy lied as ʼn druppel in ʼn droë water trog in die veld val en die natheid hom stadig vul tot hy ʼn skaap se dors kan les.

Vanmôre het Klara en Stefaans self voor hul kar, sonder roep kom staan, miskien wil hul gaan kyk of die reën ander kant die ou treinspoor geval het.

Hier op die werf is ʼn ou windpomp wat sukkel om sy werk te doen, ek noem hom sommer “regmaak” want dis al wat hy heeltyd soek is regmaak.

Vanmôre is “regmaak” stil Jirre, dit kan net dankbaarheid wees wat hom stil maak en die doop van die water.

My kinders het almal gehuil met die doop, totdat die predikant die eerste druppel saam met die Drie-Eenheid op hul voorkop drup, dan het hulle stil geword.

Miskien Jirre het dit hul aan die hemelse reën laat dink.

Miskien Jirre is dit waar ons karoo mense se respek vir net ʼn druppel water vandaan kom, die doop.

Die wêreld is nuut en op sy kop, kruiereuke van elke karoo bossie word neus toe gestuur deur ʼn sagte wind wat klink of hy ook net kom kyk wat nat is.

Die steenbokke het ook ophou wegkruip Jirre, hul stap sonder bangwees rond soos toe U die diere na die Ark toe gestuur het.

Die mooiste onse Jirre, is die ghallahoetjies wat ek vir die eerste keer in jare weer in die ou poel agter die stoor sien wemel met die nader stap, kan nie wag dat hul getoor word met tyd tot paddas wat roep nie.

Dankie Jirri dat u ons Karoo weer kom doop het, ons is stil en dankbaar en glo weer meer as ooit in U tyd.

Foto: Jens Friis

POST A COMMENT