BINNELANDSE SAKE EN N PASPOORT
My onlangse uitstappie na Binnelandse Sake is amper soos om die ou nasionale dieretuin of die nasionale museum te besoek toe ek ʼn kind was.
Jy moet tyd op hande hê, geduld en aanpasbaar wees vir verandering.
Die enigste verskil is dat toegang gratis is en daar is nie meer blanke en nie-blanke bordjies met aparte rye nie.
Nie dat dit ooit werklik vir my sin gemaak het nie, ek het altyd as kind besef dat dit ʼn nie-werkende tydelike oplossing is soos om ʼn nuwe mat oor ʼn ou olie kol te gooi.
Ek staan in die ry vir ʼn goeie paar uur, om my hou ek almal fyn dop.
Middel dag is dit weer beurtkrag en my hoop is om tog net by ʼn kassier ʼn betaling te kan doen voor dan, en deel te wees van die geprosesseerde.
Daar is geen afdak, een stoel en hordes mense wat soos karoo skape in ʼn droë land staan en soekend staar na water.
Ek kry nuwe waardering vir God se mense-skepping as ek elkeen se uniekheid ervaar.
Die weer is sleg en kort-kort val daar ʼn druppel, nie almal het ʼn sambreel nie, sommiges het net ʼn stoel gebring, hul sit maar so in die druppels en kyk af en toe met hoop ingang se kant toe.
N entjie weg staan ʼn tannie, effe groot, ek kan sien haar lyf pyn van die staan, geen stoel en geen sambreel, nie ʼn goeie beplanner nie.
Sy kyk kort-kort op met ʼn stywe nek na die hemele, een van twee goed maal deur haar kop, of ʼn soeke na hulp of ʼn poging om die weer te voorspel.
My sambreel is effe aan die klein kant en al offer ek hom op vir die tannie, gaan ons beide nat reën.
By my voete oefen ʼn klein klong sy skopwerk met ʼn leë 500ml plastiek Coke bottel.
Sy ma sê hou op, sonder stop, maar nou ja, hy het ʼn passie vir die skop ding.
Hy is effe siekerig met ʼn droë hoesie en ʼn nat neus, sy ma vee so nou en dan die seer neusie af.
Na elke tweede “hou op” kry hy ʼn skop op die boud, nie lank nie toe steek hy sy sussie aan en nou is dit chaos vir sy ma.
Dan kom daar ʼn paar grênd mense aan wat dink ry-staan is benede hulle.
Hulle stap verby ons staande skape direk na die ingang, ten einde laaste stap van hul weg na hul blink motors en ander neem tog stelling heel agter in “vanmiddag” se ry in.
Die wat motor toe stap het natuurlik op die geel streep parkering naby aan die gebou gestop, so asof hul tog wil wys hulle het ʼn mooi ryding en dit die vernedering van om nie gehelp te word nie minder naak.
Hier en daar gesels mense met mekaar en dit klink soos die klaagliedere van Jeremia.
En dan is daar die sekuriteit personeel wat my so effe laat terugdink aan ʼn stasie meester en sy makkers in hul bruin safari pakkies wat kaartjies check.
Hulle is kortaf en nie lus vir mense nie, dis asof hul ook nie verstaan wat jy hul vra nie. Hul geniet duidelik die situasie van mag misbruik, miskien is daar ʼn los prys te “koop”, dis nou as jy ʼn kort terugvou armpie het.
So nou en dan kom een van die grênd dames wat agter gaan staan het, terug deur toe om weer ʼn kans te vat.
Hoe verstaan ʼn grênd slim mens dan nie die proses nie?, miskien voel sy haar belasting geldjie is meer werd as die res van ons sin.
Ek het reeds gister besluit en geweet vandag gaan wees wat dit is, sorg dat jy genoeg tyd en geduld in jou sielsrugsakkie inpak.
Word deel van die realiteit van swak en stadige dienslewering.
Geniet die gesprekvoering oor ʼn goeie diens droom wêreld van die toekoms en ʼn nostalgiese terugblik na die goeie ou dae.
Staan vas, hou jou plek en wag vir jou beurt in die ry van die nederige en verleë publiek.
Welkom in Afrika, Suid-Afrika.