BRIEFIE VIR KERSVADER
Liewe Kersvader
Dit is Janus van Niekerk hier.
Dit is weer daai tyd van die jaar Kersvader.
Mamma het gesê ek moet my kersbriefie vir Kersvader skryf en vra wat ek graag vir Kersfees sal wil hê.
Ek het gedink dit sal goed wees om ʼn paar opsies te gee, dit is al bietjie laat.
Die ding is dat ek nie meer alles so lekker verstaan soos toe ek klein was nie.
Ek is nou amper 11 en dink ek begin die lewe verstaan.
ʼn Paar dinge maak nie meer vir my sin nie Kersvader.
Al my briefies het ek nou die dag in ʼn skoendoos in mamma se kas gekry, stuur die elfies ons briefies terug?
Oupa of oom Johan trek elke jaar ʼn Kersvader pak aan en deel ons geskenke uit, werk hulle vir jou ?
Hoekom koop mamma en pappa almal se geskenke behalwe my en boetie sin?
Elke liewe winkel waar ek saam met pappa en mamma na toe gaan, is daar iemand wat foto’s neem met klein kindertjies op jou skoot, hoe kry jy dit reg om orals te wees, of werk daar ook ander kersvaders vir jou?
Ek begin dink daar is ʼn slang in die gras, soos my ouma altyd vir my oupa sê as ons skelm biltong eet.
Wat ek wel vir Kersvader wil sê is dat ek Kersfees baie geniet.
Ek hou veral van die liggies, kersbome en mooi goedjies wat orals op is.
Die mense is ook meer vriendelik as wanneer die skool oop is.
Pappa en mamma maak saam ontbyt en ons eet elke oggend saam by die kombuis tafel.
Ons kyk baie minder tv en ons hoef nie stil te bly as ons tv kyk nie.
Die werk bel pappa en mamma ook nie heeltyd nie en dit is nogal lekker.
Hulle is baie minder op hul fone en laptops en speel saam ons games.
Van my niggies, nefies en ons vriende kom kuier ook meer as ooit en dit is nogal lekker.
Ons bid ook meer as gewoonlik vir Liewe Jesus en lees bybel saam in die aande.
Pappa en mamma speel ook mooi musiek in die huis en ons gaan slaap bietjie later.
Die lekkerste is die oggende, ek en boetie gaan lê elke oggend as ons wakker word by pappa en mamma in hul bed, dan beplan ons wat ons vandag gaan doen.
Ons mag kies wat lekker sal wees om te doen en ons voel spesiaal.
Ons doen lekker goed saam as ʼn gesin, ons ry rond en kry meer roomys as ooit, sonder om te vra.
Pappa en mamma lag ook meer as normaalweg, ek dink hulle stres minder.
O ja, wat wil ek hê, ag Kersvader kan sommer maar self besluit, ek is heel gelukkig en tevrede.
Miskien ʼn nuwe foon, fiets of ʼn kitaar.
Ek sal graag kitaar wil begin speel.
Miskien kan Kersvader my geskenk vir iemand anders gee en vir my en boetie Kersfees net so bietjie langer maak asseblief.
Kopiereg: SêNet