Title Image

Blog

DIE APPELBAK.

Die appelbak val, skerwe spat en die appels bars in stukkies.

Die plaasvloer se stof reuk en ʼn vars appel geur hang in die lug.

Die “glas-breek” klank sny deur ouma se siel en neem haar gedagtes terug in jare

 

Haar oë trek skrefies en ʼn traan loop oor haar wang.

Kom sit hier op my skoot my kind.

Janneman vat sy ouma se hand en klim stadig op haar skoot, hy staar in haar sagte blou grys oë.

Ouma het darem mooi oë, sê hy.

 

Daar is die bak ook heen, sê ouma.

Haar rimpel hande vryf oor haar kleinseun se kop en sy druk sy gesiggie teen haar bors vas.

 

Jammer ouma, ek wou net ʼn appel uitgehaal het.

Toemaar Janneman, ek het geweet die dag sal kom.

Watter dag ouma?

Die dag as die bak tot sy einde kom, een of ander tyd kom alles tot ʼn einde.

 

Ek het altyd gewonder wie sal die laaste een wees wat ʼn appel uit die bak haal, sê ouma.

Dis ek ouma, dis toe ek Janneman!

Die bak het jou oupa Jan se ma vir ons gegee die dag toe ons die plaas by hulle oorgekoop het.

Dit was hul perske bak, op die einste kombuis tafel.

 

As die bak toe moes breek sou alles seker soos perskes geruik het ouma?

Dit sou seker my kind.

Ma Ralie het gesê dat die bak se plek hier op die kombuis tafel is, dat hy altyd vol moet wees met dit wat die plaas aan die lewe hou.

Is dit hoekom daar nou appels in is ouma?

Ja my kind, na die perskes het oupa besluit om appels te plant, die appels het ons gedra tot hier.

 

Ai, ek is so jammer oor die appelbak, traantjies vorm aan die kante van sy ogies.

Kan ons nie die bak dalk gom nie ouma?

Ons kan my kind, maar die appelbak sal vir ewig vol krake wees.

Net soos die stukkende goed in die lewe ouma.

Net soos die stukkende goed in die lewe, Janneman.

Sekere goed in die lewe is nie veronderstel om vol krake te wees nie, sê ouma.

 

Dalk is dit ʼn goeie ding ouma.

Hoe so my kind?

Pa het gesê dat die appels aan hul einde kom ouma.

Ek het so gehoor my kind.

Pa plant mos nou sitrus ouma, miskien is dit tyd dat ons ʼn sitrus bak kry.

 

Jan-Daniel maak hout bakke daar by sy werkers huis ouma.

Hy maak dit uit appel hout van die ou bome soos hulle val.

Dit is ʼn uitstekende idee my kind, laat Jan-Daniel vir ons ʼn sitrus bak uit appel hout maak, dan sit ons hom net hier op die kombuis tafel waar hy hoort.

 

Miskien kan ek vir Jan-Daniel help om die bak te maak ouma.

Ek is eintlik bly die bak het gebreek ouma, nou kry ons ʼn regte appel-bak.

Eendag as ek oud is sal my vrou vir ons klein kinders net soos ouma vertel van die bak wat ek, Janneman gemaak het.

ʼn Appelbak met sitrus in.

 

Die storie was deel was van ʼn bymekaarkom een oggend in die Paarl saam met Yolande Britnell-Steyn van “Sit aan die ketel” , een sin wat n storie geword het.

 

Kopiereg:SêNet.

 

 

POST A COMMENT