Title Image

Blog

DIE LIEFDE – BLIND OF NIE?

Iemand vra my uit oor die liefde.

Is dit die deksel wat ʼn pot kry of die pot wat ʼn deksel kry?

Potte en deksels is skottelgoed, sê ek.

Is die liefde regtig blind vir die wat dit soek en probeer vind, of verwys dit na ʼn liefdesblinheid vir iemand se foute?

As die liefde werklik blind was sou soveel meer van ons dit nooit gevind het nie.

Is dit nie dalk ons wat “liefde-blind” geword het of nie meer in die liefde glo nie.

Moontlik as gevolg van seerkry of ʼn totale wanpersepsie van wat ware liefde is en veronderstel om te wees.

Soms is die idee van liefde of die gewoonte daaraan, ʼn onvervulbare gevoel met ʼn onophoudelike soeke na meer.

Ons word vasgevang in ʼn leef wêreld van net leef en saam wees, waar liefde nie meer gekoppel word aan sielsgeluk nie.

Waar omgee, luister, geduld, verstaan, respek en aanvaarding net ʼn wens, soeke en gedagte is.

Waar die enigste liefde, ʼn selfsugtige self liefde word.

Waar jou hart se liefdeskamer leeg bly en stadig uitbloei totdat jy ophou glo.

Die liefde se ster is ewig skynend.

Blink en flikkerend skyn hy neer op sy soekers.

Sou sy soekers hom nie vind nie, en ophou soek, sal die liefde nog steeds daar wees.

As die liefde jou wel vind, bring hy dit wat moet wees bymekaar, met of sonder wete.

Ons almal verskil, vir sommiges is die liefde ʼn fisiese ervaring en vervulling, vir ander geestelik.

N diep emosie wat deel vorm van jou DNA en met tyd jou laat groei en verstaan.

Eers wanneer jy die liefde ten volle verstaan kan jy dit begin deel.

Vir ander is die liefde iets onvoorwaardelik en onbeskryfbaar, soos God se liefde.

Wat ons wel nie altyd besef nie, is dat God se liefde met oneindige genade en ware vergifnis gedra word vir die wat vra.

Hoeveel van ons wat sê ons het iemand lief, het werklik genade en kan vergewe.

Elkeen se siening sal net dit bly wat dit is.

Dit is die vermoë om hierdie sienings te deel en bymekaar te bring wat die soeke na liefde die moeite werd maak.

Of jy in die liefde glo of nie, is nie belangrik nie.

Wees net ontvanklik en die liefde sal jou vind.

 

POST A COMMENT