DIE SWART HOND EN ONS KINDERS
Dit voel soos ʼn harde hou in die maag wat jou wind uitslaan en jou plat neersit op die aarde.
As n ouer besef dat sy kind deur die wrede swart hond van depressie aangeval word.
Dit voel nie reg nie, kinders is nie veronderstel om met die tipe goed te moet deel nie.
Hulle moet nog sorgvry “jol” en tyd gegun word om emosioneel te groei.
Hulle moet die mooi en lekker van die lewe beleef en uitsien na elke nuwe dag en uur.
Hulle is veronderstel om oor die jare lewenservaring op te bou en voorberei te word vir die donker deel van die lewe en sy uitdagings.
Dit laat mens met ʼn ongelooflike klomp vrae, onverstaanbaarheid en ʼn gevoel van magteloosheid.
Ek lees en soek antwoorde, praat met mense en hoe meer ek antwoorde kry, hoe minder verstaan ek.
Moontlik omdat elkeen ʼn ander storie en unieke situasie het.
Vernietigende goed soos groepsdruk, ouers wat te veel verwag, akademie, finansiële druk in ʼn ouerhuis, egskeidings, verwerping, drankmisbruik, viktimisasie by die skool en so gaan die lysie aan is volgens die geleerdes die snellers.
Ek lees ʼn artikel waarin ʼn sielkundige skryf dat kinders baie min verstaan van die grootmens wêreld waarin ons as volwassenes so baie besluite moet neem namens ons eie en ander se kinders.
Dat volwassenes soos ouers, onderwysers, ooms en tannies nie altyd besef wat die impak van hul besluite, goed wat hul sê of nie sê nie en dit wat hul doen en nie doen nie op kinders se psige het.
Hy sê dat kinders binne hierdie onverstaanbare konsep van die grootmenslewe totaal afhanklik en uitgelewer is aan die besluite wat volwassenes neem.
Dat hulle soms meer twyfel, onseker en bang voel oor ons besluite as wat ons voel.
Dat hul as gevolg van afhanklikheid net moet glo en aanvaar dat ons reg is.
Waar laat dit ons, ek is nie seker nie en is beslis nie ʼn kenner op die gebied nie, maar glo wel dat ons dalk net meer bewus moet wees van die mag wat ons as volwassenes het.
Miskien moet ons meer ingestel wees op die dinge van kind wees.
Meer luister, meer deel, meer realisties wees in ons verwagtinge, meer geduldig, minder afbrekend en net meer op die uitkyk wees vir die swart hond wat tussen ons kinders rondloop.
Mag elke ouer daar buite hierdie swart hond raaksien.
Indien daar kundiges is met raad, deel dit asb.