Title Image

Blog

FILTERS – IS DIT EK ?

Een van my rolmodel skrywers doen ʼn plasing op Facebook.

Filters op sosiale media, meer spesifiek tik tok en wat dit met die voorkoms van ʼn persoon kan doen.

 

Die fiktiewe wêreld van sosiale media, dink ek.

 

“Moet niks glo wat jy op sosiale media sien nie”, waarsku Erla Diedericks.

 

Sy verwys na haar eie foto, wat ook my tema foto is.

 

Ek self het al vele gemanipuleerde foto’s van mense wat ek persoonlik ken op sosiale media gesien.

 

Ek vra myself telkens hoekom sal iemand wetende ʼn fiktiewe weergawe van hom of haarself die wêreld instuur?

 

Ek lees van ʼn vrou wat haar beeld al so gemanipuleer het, dat sy nie meer die wêreld daar buite in die oë kan kyk nie.

 

Sy is so vasgevang in hierdie gemanipuleerde weergawe van haarself dat sy nie vir haarself in die spieël kan kyk nie.

 

Sy leef elke dag met ʼn valse droombeeld van haarself saam.

 

Ek verstaan in ʼn mate dat die glanswêreld en tydskrifte gebruik maak van filters en tegnologie om die mooiste jy daar buite te kry, dit moet verkoop.

 

Miskien het sosiale media ʼn plek geword waar mense hulself kan uitbeeld as dit wat hul graag sou wou wees.

 

Hoe hul graag wil hê die wêreld moet hul sien, of moontlik hoe hul hulself sien.

 

Sonder plastiese chirurgie en duur velsorg produkte het die persoon die vermoë om ʼn beeld van haarself te skep wat sy vir die wêreld kan wys, wat haar laat beter voel en vir ʼn wyle haar droom wêreld ʼn realiteit maak.

 

Natuurlik is dit nie net die fisiese filters van realiteit wat ons beeld in die wêreld vervals nie.

 

Duisende mense trotseer daagliks hul leefwêreld met die dra van hul emosionele filter maskers van hartseer, pyn en seer.

 

Ongelukkig het ek nie antwoorde op al die hoekoms en waaroms nie.

 

Wat ek wel weet is dat Erla Diedericks ongelooflike guts en ʼn innerlike eerlikheid moet hê, om dit met ons te deel.

 

As jy meer van hierdie eerlikheid wil beleef, gaan uit en koop haar boeke.

 

Miskien is daar verdere diepere lesse wat op jou wag.

 

POST A COMMENT