GEDIG – GOD SE SKEPPING (Geskryf vir ʼn vriend – Gerhard “ Yogi” Slabbert)
Ek kyk op na die donker van God se skeppingsnag en staar na die sterre.
Die Suiderkruis volg my verdwaalde gedagtes en die Aandster bewonder die skepping soos een van God se Engele wat waghou.
In verwondering beskou en kry ek waardering vir God se almag en die wonder van die Drie-Eenheid.
Dit maak my nederig om te bid en te vra….
Ek luister na die aand wind en voel die Heilige Gees in die warrelwinde wat in my siel rondmaal en my binnenste orden.
Dit maak my vry om te glo en ek voel naby God…..
Ek kyk na die berge en die see, ek sien die kruis en Jesus wat op die water loop, met uitgestrekte arms hou Sy hande my regop.
Dit maak dankbaar en afhanklik……..
Ek beleef die nietigheid en afhanklikheid van menswees en die waarde van die lewe saam God.
Met of sonder baie, want God is genoeg.
ʼn Verskietende ster bring my tot besef dat als hier net tydelik is, dat tyd binne God onmeetbaar is, net God bepaal.
Die Maan maak sy verskyning en die gordyn van God se liefde vul die donker, stom en in verwondering ervaar ek God se skepping.
God is hier.
Dit gee my vrede en maak my vry, ek voel veilig……..