KAROO – HEMEL WAT EK KEN
Jirre, U het die plek darem maar anders gemaak.
Dis hard en droog en die son se rol lyk soos water wat jou bekruip as jy diep die verte inkyk.
Daarom loop die skaap so kop onderstebo en is ons goed met vêr kyk.
Dis vêr van alles en almal en die geraas is min, maar die klanke baie.
Hier dink ek aan alles en almal op een slag en elke geluid en proe trek in my in, dit kom lê hier onder my vel.
Soms voel dit of U Gees my agtervolg, veral as my kop vol sonde is.
Die duiwel bly nie lank hier nie, hy weet die is U plek, hy weet hy hoort nie hier nie.
So nou en dan bly hy bietjie langer, veral as die papsak intrek en die harde grond sag word.
As ek da by die 7 span draad by die droë dam se kant kom, lyk dit so of die rolbos waghou by die kort anker paal.
Hy hou wag vir die reën wat so skaam is, vir die seën wat hierdie wêreld op sy eie tyd kry.
Ons maak sommer kjerk hier onder die soetdoring en eet nagmaal saam die miere.
Hulle kom bly mos vir die “mierebrood” in die soetdoring, Willem Plant sê hulle pas die boom op.
Hier hoef jy nie die Jirre te soek nie, die wind en stof vul jou sommer met woord.
Dit maak jou blink om die mond soos ʼn vet skaapstert met roosterkoek en ʼn geil stukkie skaapwors.
Hier is min altyd genoeg, al gaan lê jy plankpens voel jy vol.
As daar antwoorde is wat jy soek, ma nie wil vra nie, sal jy hulle hier kry, sonder om te vra.
Ek het ander dag so gewonder, as ek sandkooi toe gaan Jirre, dan kan U my ma weer enige tyd terug stuur, want my gees sal net hier bly.
Die is al Hemel wat ek ken.