Title Image

Blog

LIG EN DONKER

Die wêreld het vir baie ʼn donker plek geword.

Hoe meer ek lees, na mense luister en gesels besef ek dat dit ons, die mens is wat in die donker leef en ons wêreld ʼn donker plek maak.

Jare terug het ek en ʼn vriend ʼn bybel groepie begin, eers net ons twee. Koffie vroeg oggend, een maal n week lees, gesels en saam bid.

Hy is ʼn besondere mens en een oggend tydens ʼn gesprek, as ek reg kan onthou het ons uit ʼn paar stukkies, Mattheus, Johannes en Efesiërs gelees. (Volgens my ou notas)

Stoffel het die volgende met my gedeel.

Verseker iets wat my konnotasie en persepsie van die donker vir ewig verander het, ek deel dit graag met julle.

Hy het gesê as jy binne ʼn groot vertrek instap, gevul met donker.

Neem dit net die aansit van een lig om die donker te breek.

Sonder die lig kan jy struikel oor die gevare wat jy nie in die donker kan sien nie, die onsigbare.

Dit wat binne in die donker kamer is, die inhoud, bly dieselfde.

Die lig of donker verander nie die inhoud in die vertrek nie.

Die gevare en goed wat jou kan seermaak, laat struikel of val bly teenwoordig.

Die groot verskil is, dat die lig die gevare uitwys en ontneem so die donker van sy mag.

Daar is dus krag in die lig.

Hy sê dit werk in die lewe ook so.

Alles wat in die donker gebeur of plaasvind soos, geheime, skinder, afguns en so gaan die lysie aan, vorm deel van die donker duisternis.

Dit is boos, sleg en van die duiwel.

Onsigbaar besoedel dit jou siel en bou ʼn grens tussen jou en God en God se koninkryk.

Die redding lê daarin dat die lig oorwin altyd die donker.

Dit is egter ons elkeen se keuse of ons binne die lig of in die donker wil leef en stap.

Binne die donker moet ons stadig, voel-voel stap en gaan ons beslis een of ander tyd oor die gevare struikel en seerkry, selfs sterf.

God is ons lig binne die donker, die verskil is dat God se lig die inhoud van jou hart en menswees wel kan verander, anders as die lig in die kamer.

Dit is egter ʼn keuse, jou keuse.

Volg en stap in God se lig en ervaar Sy liefde en genade, ʼn liefde en genade wat deel word van die lig binne jou.

Oorwin die donker…..leef in die Lig.

Dankie Stoffel.

Kopiereg: SêNet

POST A COMMENT