
Mooi van die lewe – Lewensuitkyk of Persepsie?
Is die mooi van die lewe dit wat ons kan sien, ondervind en met elke sintuig voel en beleef?
Of is dit die minder opsigtelike wat ʼn blywende impak maak op ons waardering vir die lewe en ons laat besef dat daar wel ‘n balans is tussen genade en die soeke waarin en waar jy dit vind.
Dit voel asof die mooi van die lewe meer en meer versteek word en net beskore is vir die wat dit werklik wil raaksien, want dit is daar.
Die wat moeite maak om sy stukkie hemel op aarde te soek en te vind, sal wel met tye die mooi raaksien en vind.
Daar is werklik soveel mooi daar buite, en my gevoel is dat ons dit net binne ons eie nougesette fokus miskyk.
Ons soek gewoonlik die mooi in ons bankbalans, pelle, motors, huise en dan wegbreek naweke in die natuur, en soms die aanvaarding van mense.
Ons word toegegooi met slegte nuus, negatiewe kommentaar en onophoudelike beterweters waaroor ek voorheen iets geskryf het.
Die mooi waarvan ek praat, is iets soos die kyk in jou kind se oë of dalk jou swanger vrou se nukke en grille, die wonder van genesing en die onmeetbare vervulling van ongekende seën.
Tussen die gange van die hospitaal met sy lap beddens vol siek mense, loop hier engele rond in uniforms, elkeen uniek.
Ek verwys na die elke dag-mense, verpleegsters, skoonmakers, spyseniering personeel, sekuriteit ens, die mense wat die horlosie laat tik, die ratte draai en dinge maak gebeur.
Mense wie se klein besluite groot impak maak en blywende indrukke skep.
Toegewyd, met baie geduld en ʼn ongelooflike liefde en passie vir dit wat hul doen, bring hulle mooi in mense se lewens.
Met respek beleef mens die afwesigheid van ʼn staatsdienaar, en met groot dankbaarheid moet ek by sê.
Dit laat mens met hoop en ʼn wete dat as ʼn instansie reg bestuur word dat dit sy mense is wat die eerste beelde van sukses en geluk weerspieël.
En ja, dit is maklik om fout te vind en te kritiseer, kyk maar net hoe straf jy elke dag jou self met jou eie foute en tekortkominge se details, spyt en verwyt.
Wat ek wel geleer het is as jy jou ingesteldheid verander na een van klein bietjie meer dankbaarheid, beleef jy meer dankbaarheid.
Ons het verseker nog ʼn ver pad om te gaan, en baie van ons is moedeloos oor die land, ons mense, ons situasie, en met goeie reg.
Tog as mens die bietjie mooi van die lewe beleef, en ʼn klein tikseltjie daarvan raaksien glo jy weer dat dit wel bestaan.
Die vraag is net, is dit genoeg en beleef jy dit genoeg?